Leesvordering:

Iewers aan die anderkant van die reënboog …

Mei 4, 2017

Deur George de Bruin

As daar één plek op aarde is waar al die reënboë bymekaarkom, is dit in Keukenhof, Nederland. Dié voormalige kombuistuin (dis waar die naam vandaan kom) het sedert die 15de eeu ontwikkel tot een van die grootste blomtuine ter wêreld. Met meer as 7 miljoen bolle wat jaarliks geplant word – waarvan net meer as 800 tulpvariëteite deel is – is dit inderdaad waar die reënboë van die wêreld hul inspirasie vandaan kry.

Vanjaar se uitstalling strek van 23 Maart tot 21 Mei. Ons was gelukkig om die tuin op 19 April te kon besoek – die week wat allerweë beskou word as die beste week om die volle prag te beleef.

Nou moet ek eers noem dat Keukenhof nie nét tulpe ten toon stel nie. Daar is ook honderdduisende hiasinte in kleure wat benewens die bekende donkerblou, ligblou en wit ook salmkleurige en selfs bottergeel variëteite insluit. Klein druifhiasinte (muscari) kleur die wêreld in (daar is selfs een toneel waar ’n hele skare kobaltblou druifhiasinte ’n rivier deur die bos naboots!). Dan is daar natuurlik die affodille, narsings en ander bolle wat die prentjies voltooi, asook honderde ander bolle wat toegelaat word om wild te groei, onder andere die Fritillaria meleagris of blokkieslelie.

Die geheim van Keukenhof se uitgerekte blomtyd is indrukwekkend, hoewel eenvoudig en geensins hoërgraadingenieurswerk nie. Die tuiniers maak gebruik van ’n sogenaamde lasagne-metode om die bolle te plant. Hiervolgens word die bolle in drie lae geplant – die boonste laag bolle blom eerste en voorsien die eerste kleurontploffing. Sodra dié eerstelinge uitgeblom is en die dooie blomme uitgebreek word, het die tweede laag reeds deur die grondoppervlak gebreek en is nou gereed om hul blomme aan die mense ten toon te stel. En sodra die tweede laag uitgeblom is, volg die derde vlaag blomme. Op dié wyse kan die tuin sy hekke vir bykans twee maande lank oophou en miljoene mense se asems wegslaan.

Die internet noem dat ’n mens se oog bykans 7 miljoen kleure kan onderskei. Glo my – Keukenhof daag hierdie feit uit, want ek is seker dat my oë gedwing was om ten minste nog 500 000 kleure by te reken. Elke denkbare kleur tulp word in die Tulpomania-gedeelte verteenwoordig; daar is selfs grasgroen tulpe en tulpe wat soveel fraiings het dat dit soos krimpvarkies lyk en ons dit terstond “rafeltulpe” begin noem het.

En of dít nie genoeg is nie, bied die Willem Alexander-saal ’n versameling tulpe wat as buitengewoon besonder beskou word. Dit is ook hiér waar ek tulpe teëgekom het wat elke Rembrandt-aanhanger sal herken – daardie tulpe wat in sy stillewes voorkom en wat die groot tulpkrisis in die vroeë 17de eeu veroorsaak het.

Keukenhof is een van daardie plekke wat mens móét sien. Daar is egter een of twee wenke waarop die voornemende besoeker ag moet slaan:

  1. Koop jou kaartjie aanlyn. Ons kon uit een van drie dae kies en kon verby die rye mense beweeg om in te gaan. Hou die weervoorspellings dop en besluit dan watter een van die drie dae die beste is.
  2. Gaan vroeg. Hoe vroeër jy daar is, hoe meer tulpe kan jy afneem sonder dat duisende modelle wat om elke hoek en draai vir ’n kiekie poseer jou komposisie vesteur.
  3. Neem jou eie eet- en drinkgoed saam. Daar is baie plekkies waar mens ’n piekniek kan hou (en die eet- en drinkgoed wat te kope aangebied word, is duur).
  4. Dra gemaklike skoene. Jy gaan myle en myle loop, selfs al wil jy nie (jy oë gaan jou dwing).
  5. Neem maar ’n sambreël saam – selfs op sonskyndae kan die Nederlandse weer jou met ’n kort reënbui verras.
  6. Onthou jou kamera, selfoon en enigiets wat foto’s kan neem.

Daar is nog ’n paar dae oor om Keukenhof te gaan besoek. As jy in die omtrek is, gaan maak beslis ’n draai.

  • George de Bruin is ’n taalpraktisyn by AfriForum en het pas van ’n onvergeetlike Europese toer teruggekeer. Lees oor die volgende weke meer oor die ander plekkies wat hy besoek het, onder andere die Rijksmuseum, Aken se katedraal, die Eifel-gebied in Duitsland en vele ander plekkies.

Foto’s: George de Bruin en Dirk Scholtz

 

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest