Leesvordering:

Jou Dublin-beginnerspak

Okt 30, 2018

Dublin is ’n baie mooi stad. Dis nie jou tipiese stad-stad waar jy deur hemelhoë wolkekrabbers en beton omring is nie; maar dis ook nou nie die Vrystaatse vlaktes nie.

Dis ’n tipies Europese stad met die mooiste geboue, kerke en standbeelde, kleurvolle deure en vriendelike Iere.

So – as jy daaraan dink om Dublin toe te kom, hetsy dit vir ’n paar dae se vakansie is of omdat jy dit dalk meer permanent wil maak, maak seker dat jy die volgende vyf goed byderhand het. Dit sal jou tyd hier beslis makliker maak.

’n Reënjas … of sambreel (as dit moet)

Ek is nie ’n sambreelaanhanger nie. Dit lyk dalk mooi as jy met die ding in jou hand rondloop en glimlaggend die straat oorsteek wanneer daar ’n ligte bui reën val, maar sodra die wind begin waai, is dit ’n heel ander prentjie. In die nege maande wat ek hier bly, het ek al vier sambrele verloor: Drie het gebreek terwyl die wind waai, en een het ek op die bus vergeet – dit was nie my skerpste oomblik nie.

Dus is ‘n reënjas baie beter en beslis ’n moet. Moenie dat die sonnige weer jou flous wanneer jy uit jou bed opstaan nie, want hier in Dublin kry jy sommer al vier seisoene in een dag.

’n Paar gemaklike, maar mooi stapskoene

Wanneer jy na enige Europese stad kom, moet jy weet dat jy báie gaan stap: Nie net omdat dit goedkoper is nie (glo my, taxi’s en ander vervoer kan jou nogal héélwat uit die sak jaag), maar ’n mens sien en ervaar ook meer van die kultuur en mense wanneer jy self tussen hulle beweeg. Dis beslis ’n moet om soveel moontlik te stap.

En probeer maar om nie jou slonstekkies vir die uittog te dra nie. Baie van die pubs hier in Dublin laat jou nie toe as jy sportskoene en ’n sweetpakbroek dra nie. En ná omtrent 10 km se stap wil ’n mens mos maar lekker terugsit en ’n ietsie nats vir die keel geniet.

’n Leap-kaart

Hoewel jy baie gaan stap, is daar plekke in en om Dublin wat darem net té ver is om met die voet aan te durf. En dis waar ’n Leap-kaart baie handig te pas kom. Dit gee jou toegang om die busse, treine en die trems te gebruik – teen ’n goedkoper tarief!

Dis ook baie vinniger. Jy laai net ’n paar euro’s op die kaart, gebruik dit by die ingang van die bus-, trein- of tremstasie, en daar gaan jy! Jy sal gou agterkom dat die groen plastiekkaartjie amper net so kosbaar soos jou bankkaart word.

Die Moovit-toep

Hierdie toep en jou Leap-kaart loop hand aan hand. Dit is die toep wat jou wys hoe om die maklikste van punt A na punt B te gaan en wat die tye van die busse, treine en trems is. Dit bied selfs ’n GPS-funksie wat vir jou roetes aanwys!

Daar is baie soortgelyke toeps. Al verkies jy nie die Moovit-toep nie, moet jy maar seker maak dat jy ten minste een of ander toep het wat jou kan help om die openbare vervoer te ontsyfer. Google Maps neem jou dikwels ook net só ver …

’n Kragbank

Dit is eintlk vanselfsprekend, want jou battery sal op die onmoontlikste tye te pap wees om daardie laaste selfie by die Guinness Store House te neem of die maklikste pad huis toe op te spoor as jy iewers in die stad is en nie ’n idee het of jy links of regs moet draai nie. En maak tog seker jou kragbank is ook voldoende gelaai.

Hierdie is net ’n paar goedjies, maar elkeen – dink ek – ’n absolute moet as jy Dublin toe kom. En voor jy weet, stap jy soos ’n wafferse Ier in die verkeer rond, of dit nou reën en of die son skyn, en neem sommer nog ’n paar selfies so in die loop.

 

Meer oor die outeur

Elsje du Toit

Elsje du Toit is ’n plattelandse meisie wat in die Noord-Kaap grootgeword het en later vir 5 jaar as joernalis by Volksblad en Netwerk24 in Bloemfontein gewerk het. Sy en haar man, JJ, bly sedert Januarie 2018 in Dublin. Hoewel sy al ’n rukkie hier bly, kan sy nog nie heeltemal aan die yskoue weer gewoond raak nie, maar tog geniet sy elke oomblik

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest