Leesvordering:

Konsep Suid-Afrikaanse identiteitsbestuursbeleid beskikbaar vir openbare insette

Jan 28, 2021

Deur Alana Bailey

’n Konsep identiteitsbestuursbeleid is deur die departement van Binnelandse Sake vir openbare kennisname gepubliseer. Dit is by https://pmg.org.za/call-for-comment/1011/ beskikbaar en enigeen wat kommentaar daarop wil lewer, moet dit voor 28 Februarie 2021 by die departement indien.

Van die vernaamste doelstellings van die beleid, word soos volg daarin opgesom:

  • om die departement van Binnelandse Sake te herposisioneer as die enigste verskaffer van amptelike identiteits- en burgerlike statusverifikasiedienste;
  • om reëls op te stel wat toegang tot en die verwerking van bevolkingsregisterdata bestuur in ooreenstemming met toepaslike beleide en wetgewing; en
  • om die Nasionale Bevolkingsregister te vervang met ’n inklusiewe, digitale bevolkingsregister wat veilig en akkuraat is, maar ook die vertroulikheid van die inligting beskerm, naamlik die Nasionale Identiteitstelsel (NIS).

Die uitdaging is om identiteitsbesonderhede met ander staatsinstellings, internasionale belanghebbendes soos grensbeheerowerhede en selfs instellings uit die sakewêreld byvoorbeeld kommersiële banke te kan deel, sonder dat die betrokke individue se reg op privaatheid en wetgewing in dié verband geskend word.

Die departement staan verder voor die uitdaging om die stelsel só te ontwikkel dat dit met die vernuwings wat die Vierde Nywerheidsrewolusie gaan meebring, sal bybly.

Tans skep identiteitsdiefstal en maatskaplike ongelykhede groot uitdagings vir die bestuur van identiteitsinligting in die land.

Ten einde identiteitsdiefstal te probeer voorkom, word die inlees van meer biometriese besonderhede van elke individu voorgestel, onder meer dat kinders by geboorte geregistreer moet word, maar dat die inligting wat dan vasgelê word, aangevul moet word wanneer hulle vyf word om te verseker dat hulle geboortesertifikate nie gesteel of verkoop kan word, soos wat tans die geval is nie.

Die ou groen identiteitsboekies moet dringend uitgefaseer word, aangesien dit min veiligheidskenmerke het en identiteitsdiefstal vergemaklik. Geen finale afsnydatum vir die uitfasering daarvan word egter in die beleid genoem nie.

Nuwe identiteitsnommers word selfs oorweeg, omdat die huidige nommers private inligting van individue soos geslag en geboortedatum bevat. ’n Lukrake kombinasie van syfers wat outomaties geskep word, kan vir ’n unieke nommer sorg, sonder dat die individu se privaatheid geskend word.

Strenger wetgewing word voorgestaan sodat die skending van kubersekuriteit, byvoorbeeld om identiteitsdiefstal te pleeg, voorkom kan word.

Die konsep beleid stel dit baie duidelik dat hierdie voorgestelde aanpassings GEEN invloed sal hê op kriteria wat vir immigrasie, vlugtelingstatus of burgerskap geld nie, maar bloot ten doel het om elkeen se identiteit en status in die land vas te lê en toe te sien dat dit maklik aangepas kan word indien dit sou verander – met ander woorde wanneer iemand ’n immigrant met permanente verblyfreg was en dan ’n burger word, moet die stelsel die wysiging dadelik kan doen.

Tevore het die stelsel ook net vir twee geslagte voorsiening gemaak, naamlik manlik en vroulik, maar nou word dit aangepas vir meer opsies in ooreenstemming met die benadering van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

Om armes te akkommodeer, word besin oor aansoekkoste. Die gevoel is dat eerste aansoeke vir identiteitsdokumente, geboortesertifikate en sterftesertifikate gratis moet wees. Individue het wel die verantwoordelikheid om dokumentasie op te pas, so vir volgende aansoeke sal waarskynlik dan wel betaal moet word. ’n Glyskaal word vir die bepaling van die koste voorgestel. Aangesien niemand verplig word om ’n paspoort te hê nie, sal aansoekers volgens die beleid wel van die eerste aansoek af daarvoor moet betaal.

Ambisieuse datums word vir die afhandeling van die implementering van die NIS voorgestel, maar die stelsel moet nog gebou word en die departement noem dat die opleiding van voldoende personeel en begrotingstekorte groot uitdagings tot gevolg gaan hê.

Wêreldwyd hou die proses dop en sal enige aanpassings wat die proses tot gevolg het, op ons nuusplatforms bekendmaak.

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest