Die afgelope twee weke ontvang Wêreldwyd en AfriForum heelwat navrae van Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, vakansie kry en nou na Suid-Afrika wil kom om hulle geliefdes hier te sien voordat die volgende werkjaar in die buiteland weer ’n aanvang neem.

Natuurlik is dit verstaanbaar dat mense baie verlang, veral as verloftyd beperk is en ’n mens weg van jou breër familie of dalk selfs jou gesin werk. Die COVID-19-tyd veroorsaak baie spanning by mense en juis dan wil jy ook graag by die mense wees wat jou die naaste aan die hart lê, maar tans is dit nie aan te bevele dat tydelik na die land teruggekeer word nie.

Tydens mediakonferensies het die minister van Internasionale Samewerking en Betrekkinge al herhaaldelik beklemtoon dat die huidige repatriasievlugte en grensoopstelvergunnings nie vir mense bedoel is wat met vakansie na Suid-Afrika kom nie, maar slegs vir mense wat repatrieer, met ander woorde mense wie se primêre woonplek in Suid-Afrika is en wat op ’n redelike permanente basis na die land wil terugkeer.

Daar is vele redes hiervoor. Een daarvan is dat mense wat tydelik terugkeer, weer in ’n stadium die land moet verlaat. Tans is niemand seker wanneer internasionale reise weer soos voor 2020 moontlik sal wees nie. Sommige lugrederye praat selfs daarvan dat dit hulle drie jaar gaan neem om weer vlugte na al hulle roetes te hervat. Ander gaan besmoontlik sluit. Lande is ook baie huiwerig om hulle lugruime en grense oop te stel, en al stel hulle dit oop, mag dit moontlik weer op kort kennisgewing sluit as die aantal infeksies skerp toeneem. Die feit dat iemand dus na Suid-Afrika kan reis, waarborg nie dat hy of sy weer op die bestemde tyd sal kan vertrek nie.

Tweedens het reis skielik ook verstrengel geraak in burokratiese rompslomp. Om na Suid-Afrika te kom en dan weer te vertrek, is nie meer so maklik as om ’n kaartjie te koop of petrol in jou voertuig te gooi en te sorg dat jou paspoort en visums in orde is nie. Om Suid-Afrika te verlaat, moet Suid-Afrikaners nie alleen die vereistes van hulle bestemmingsland nakom nie, maar ook aan die departement van Binnelandse Sake die volgende toon:

  • ’n geldige Suid-Afrikaanse paspoort;
  • skriftelike bevestiging dat hulle onder die huidige omstandighede toegang sal hê tot die land waarheen hulle wil reis ‒ die bevestiging moet kom van die ambassade of ander diplomatieke of konsulêre verteenwoordiger van die betrokke land;
  • mense wat per voertuig of aansluitingsvlug via ander lande gaan reis om by hulle bestemming te kom, moet die bewyse voorlê dat hulle deurgangstoestemming het van elke land waardeur hulle gaan reis;
  • bewys van reisreëlings, soos vliegtuig- of buskaartjies; en
  • die beoogde vertrekdatum.

Wanneer dit alles gereed is, kan die reisigers ’n e-pos stuur aan Covid19travel@dha.gov.za. ’n E-pos sal dan deur die departement teruggestuur word aan die reisigers wat aan die kriteria voldoen om hulle in staat te stel om met hulle reisreëlings voort te gaan.

Derdens is lugreis buitengewoon duur in die tyd. ’n Tyd lank het dit gelyk asof net SAL-vlugte plaaslik toegelaat gaan word, nou is daar weer meer rederye wat in Suid-Afrika mag land, maar vlugte bly duur.

Vierdens is dit tans verpligtend dat mense wat uit die buiteland na Suid-Afrika terugkeer, vir minstens 14 dae in ’n staatsfasiliteit in kwarantyn moet bly. AfriForum is besig met regsaksie hierteen en hoop dat die saak ten gunste van self-isolasie in die tyd in die week van 29 Junie 2020 aangehoor sal word, maar uiteraard is die uitkoms ook onseker. Mense moet dus in gedagte hou dat hulle selfs na hulle terugkeer nie dadelik by hulle geliefdes sal kan wees nie. Ook as self-isolasie moontlik word, beteken dit afsondering van gesinslede en die handhawing van streng isolasie vereistes.

In die laaste plek moet almal in gedagte hou dat die wêreld ’n ekonomiese krisis beleef. Maatskappye besluit letterlik oornag om te sluit of personeel te verminder. Verskeie mense met wie ons die afgelope maande kontak gehad het, het pas na hulle terugkeer werk toe verneem dat hulle kontrakte nie hernu word nie, of dat hulle afgelê word. Sou dit met jou in die buiteland gebeur, raak jy dan letterlik gestrand daar, nou sonder inkomste en met die krisis om weer plek aan boord van ’n repatriasievlug te probeer kry, terwyl jy boonop jou verblyfpermit in stand moet probeer hou sonder ’n werksaanbod. Tensy werksekerheid ten volle gewaarborg is, is enige reise in hierdie tyd ’n uitgawe wat eerder vermy moet word, behalwe as dit absoluut noodsaaklik is.

Dieselfde oorwegings geld ook vir minderjariges wat by vriende en familie wil kuier, of ouers wat tussen hulle kinders in verskillende lande reis. Tans is daar vergunnings vir kinders om kwarantyn vry te spring as hulle na onderriginstellings moet terugkeer, maar dit mag enige tyd verander. Ouers is gewoonlik ouer en dus meer vatbaar vir ernstige gevolge as hulle die virus sou opdoen. Reis, kwarantyn en die meegaande spanning van al die betrokke owerhede wat moet toestemming verleen, beteken dat die beste advies is om te probeer bly waar jy is tot grense weer meer oop is en die vereistes van regerings meer duidelik en permanent.

Ons verlang almal na ons geliefdes in aftree-oorde wat tans geen besoekers toelaat nie, asook ons mense in ander provinsies en lande. Laat ons eerder mekaar moed inpraat en emosioneel ondersteun as om heen en weer te probeer reis, maar dan iewers vasgekeer te raak, met slegte finansiële of emosionele gevolge. Gelukkig leef ons in ’n tyd waar tegnologie dit vir ons maklik maak om oor duisende kilometers heen steeds daagliks kontak te hou.

Navrae oor enige van die bogenoemde kwessies kan aan Wêreldwyd gestuur word. Ons help graag!

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Alana Bailey
Alana Bailey
Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Pin It on Pinterest