Noordwijk, Keukenhof, Hardenberg, Emlicheim, Tilburg na Londen

Ek wil julle graag vertel van ons laaste vakansie wat ons so tussendeur die werk geneem het.

Jan het nog altyd gesê dat hy met die motorfiets wil gaan reis. Ek het altyd gesê dit sal “nice” wees, maar ná ‘n paar ritte het ek gewonder of dit regtig “nice” sal wees en die “eendag”-reis het “eendag” gebly. Toe ek wil gaan blomme kyk in Keukenhof, Nederland, het Jan vasberade aangekondig dat dit per motorfiets gaan wees. Ek het nie die “ferry” bespreek nie, want miskien verander hy van gedagte. Ek het dit gehoop maar nie gesê nie. Nou ja, so breek die tyd aan dat ons moet bespreek en terwyl die vuurspuwende berg “ferry”-plekke bedreig, bespreek ons inderhaas ná 10 nm die aand ‘n “ferry”, MET DIE MOTORFIETS! Ek het toe geweet dat daar geen omdraaikans meer is nie. Die ysterperd gaan dit wees en ek sal vinnig myself moet geestelik voorberei.

So gebeur dit dan ook dat ek myself op 53 jaar moet “dare”! Bevele word gegee dat daar slegs plek is vir onderklere en ‘n paar T-hemde en alle fieterjasies word beperk tot die minimum, want plek is min.

So val ons dan op ‘n koue Dinsdagoggend in die pad. Gou moet ek leer om my nek styf te hou voordat ek my kop aan die anderkant van die hoofweg optel en ek oefen soos ‘n meester Apollo om my kop soos ‘n aardbol te balanseer. Dit help. Die uitsig agter op die motorfiets is dieselfde as Mamma Afrika se kleintjie wat sy op haar rug abba. Ek hoop net salig dat ek nie visueel gestremd sal wees wanneer terug is in Londen nie. Die wind vind die kleinste gaatjie wat ek per ongeluk nie toegemaak het nie – en dis vriesend koud! Die helmet en handskoene maak dit onmoontlik om my neus af te vee wat veroorsaak word deur die koue luggies wat oral infiltreer, so ek lek so elke nou en dan die druppende watertjies op – kan nie kla dat ek dors word nie!

My bene is in ‘n wydsbeenposisie en so word my binneboude ook dan in die wydsbeenposisie gevries. Net so voor “frostbite”-punt, stop ons. Ek probeer om baie grasieus af te klouter; met binneboude in kettieposisie … grasieus … maar moeilik. Dan is ek af en kyk ek vinnig rond om te sien wie kan nie sy lag bedwing nadat hul die petalje van die kruipende vrou aanskou het nie.

Ná vele stoppe is ons in Noordwijk en by die Hollandse dame se B&B waar ons vooruit bespreek het. Als lyk heel goed tot ons sien watter trappe ons na bo moet neem om by ons kamer uit te kom. Die trappe is soos driehoeke van 15˚-punt by 25˚, opmekaar gestapel. Health and Safety se droom vir kritiek. So gevaarlik dat beide Jan en ek voel om eers ons polisse na te gaan voor ons dit aandurf. Ons maak dit toe tog wel tot bo, en terwyl ons in ons kamer is, kom die Hollandse dame se man tuis. Hy ry ook motorfiets, en wat doen hy? Hy hardloop met motorfietsstewels die trappe op soos ‘n koggelmander in benoudheid. Die mens is darem só aanpasbaar!

Ons gaan stap langs die see, maar die ongelooflike koue noordpoolwinde maak seker dat ons geen genot daaruit put nie.

Die volgende dag is ons na Keukenhof om die pragtigste tuin met bome en blomme en water te beleef, ‘n lushof vir die oog. Elke kleur tulp waaraan jy aan kan dink, enkel, dubbel, klein, groot, lank en kort, te veel om in te neem. Orgideë in alle kleure en groottes asook affodille wat koppies hoog op in die lug staan, het vir ‘n skouspel gesorg wat jou hart goed doen. Kos vir die siel, so mooi is dit!

Die aand eet ons weer in ‘n restaurant in die koue straat van Noordwijk, langs die see. Binne brand ‘n vuurtjie gesellig en jy wil sommer net daar bly. Alhoewel die son sy warm strale deur die groot vensters gooi tot ná 9 uur die aand, is die skraal windjie daarbuite ‘n groot realiteit. Die kelner vergeet van ons bestelling en ons kuier toe maar net met mekaar met ‘n heerlike rooi wyntjie op die huis van meneer die kelner en die warm vuurtjie langs ons tafel. Die kos was heerlik, so hy is vergewe.

Die volgende dag is ons na Haarlem – meer noord van Noordwijk op pad na Amsterdam. Ons sien die vliegtuie opstyg en land by Schiphol en dis eintlik ʼn aardigheid, ná die dae van geen vlugte as gevolg van die vuurspuwende berg in Ysland. Haarlem is ‘n ou stad met baie ou geboue en kerke, strate wat skeef en krom is. Ons loop rond en vind puntsak friete met Mayo en eet ons mae knuppeldik. Ons sal volgende keer maar ʼn puntsak moet deel.

Terug na Noordwijk. Nou is die fietsry al normaal en die sonskyn ‘n plesier. Dit was ʼn heerlike dag en geen koue lug wat jou pret wil bederf nie.

Die volgende dag val ons weer in die pad na Hardenberg, meer noord in Holland. Kuier lekker by Nederlandse familie en moes hoor van die brawe muis wat ‘n nie so brawe tante byna ‘n oorval gegee het. Die muis het vier verdiepings hoog na hul woonstel se balkon geklim om kos te kom eet, wat daar gebêre word totdat dit vir hersirkulering deur die munisipaliteit verwyder word. Voor ons weg is, het slim muis se baas hom gevang in ‘n valletjie en is hy nou ook nie meer nie.

Saterdag is ons na Emlicheim, Laer af in Duitsland, na Jan se Duitse tante en neef en het ons haar geneem vir ete in Coevorden op die grens van Duitsland en Nederland. Te gou was die kuiertjie ook verby en val ons weer in die pad na Tilburg in die suide van Holland.

By die B&B ontmoet ons die baas van die huis. O wee, hy lyk soos ‘n polissmous en praat heeltemal te veel. Die tipe wat jou maak wens jy het nooit daar bespreek nie. Hy wys ons die huis, en wil ook sommer dadelik weet wat dink ons nou van sy B&B. Ek kon nie vir hom so blatant sê nie, maar wou sê: “Weet jy, my man piepie baie in die nag en met jou trappe mag ons dalk in die Noodafdeling van die Hospitaal beland, vannag.” Maar toe is ek weer ordentlik en sê maar net dat ek dink dit sou beter gewees het as die toilet en badkamer langs die kamer was en nie trappe af en deur die kombuis nie. Verder het hul seker op ‘n “bootsale” ‘n boks vol vierkantige spieëls gekry wat oral op die mure geplak is. Die kamers is op die eerste vloer en die enigste toilet en badkamer is trappe af, gang af en deur die kombuis. Die toilet is so klein dat jy eerder nie jou gedagtes daar moet verander nie – dit sal te veel spasie neem. Arme Jan, ek sal nie weet hoe het hy daar reggekom nie, maar dis te veel inligting vir hierdie brief.

Ek raak so gou as moontlik van die man van die huis ontslae deur kamer toe te vlug en aan te kondig dat ek nou gaan stort. Man van die huis het toe sowaar die nerf om vir my te sê: “Ja, natuurlik mag ek gaan stort,” asof ek toestemming gevra het. In die badkamer het ek toe inderdaad ‘n logistieke probleem. Die badmuurtjie is breed en hoog en die gaatjie tussen die muur en die glasskerm van die stort klein en my beentjies kort, baie kort. Ek kruip/klim oor die bad se rand en neem ʼn heerlike warm stort. En toe ek die kraan toedraai, besef ek eers my dilemma. Die bad se rand is breed soos ek reeds gesê het, so as ek nou my voet oorsit is die pad na die vloer toe baie ver, wat beteken dat my ander been onder my uitskiet op die gladde bad. Die gat tussen die muur en glas te klein om my hele lyf en bene gelyk deur te kry en ek kan nie vir Jan roep nie, want die deur is gesluit. Nou gly ek so vorentoe en agtertoe, dis ‘n geval van Paraguay, Holland, Paraguay, Holland, totdat ek myself oor die bad se rand kry. Maar toe stoom ek nie meer van die stort nie, maar oor die verdomde B&B. Ek storm daar uit en konfronteer meneer Pierewaaier B&B watookal. Hy antwoord: “O, ja daar is ‘n trappie.” Ag, toe verloor ek dit toe.

Sondagoggend kry ons ‘n ontbyt uit die boeke, gemaak deur meneer Pierewaaier se Roemeense wyfie wat ‘n sjef is. Dit maak toe op vir al die ontberinge van die vorige aand in sy geselskap.

Ons ry vroeg weg en geniet die heerlike sonskyn oor die plat Nederlandse hoofweë, deur België na Frankryk. Op die boot skep ons asem en voel ek danig soos ‘n ou biker, baie gelukkig in my velletjie. Dan by Dover af na ons dogter in Faversham, waar ons koffie drink en bederf word met heerlike Rhubab Crumble met room en kaaskoek, wat die Engelsman, haar man, gemaak het.

Gou weer in die pad tot by die huis. Home, sweet home! Koffie saam met ons seun en familie. Als weer terug na normaal!

Ek hoop julle het lekker saam met ons gereis.

Groete uit Londen!

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest