Leesvordering:

Nuut by LAPA in Oktober

Okt 12, 2017

Ons het nog ’n oorlogsroman van Irma Joubert, talle klassieke kinderboeke, Romanza’s wat geskryf is om moeilike vrae te vra en ’n niefiksieboek oor geestesongesteldhede.

Fiksie

Mentje, kind van Pas-Opkamp
Irma Joubert
ISBN: 978 0 7993 8593 9
R280,00

Sy is so verskriklik eensaam. So verskriklik bang. Haar hart is verskriklik stukkend. Mentje de Vries, ’n Nederlandse oorlogswesie, beleef die Tweede Wêreldoorlog in al sy genadeloosheid. Eers moet sy onderduik in ’n geheime kamp vol Joodse vlugtelinge, en daarna beleef sy die hel wat die tyd net voor die bevryding voorafgaan, wanneer Britse troepe gestuur word om ’n brug in Arnhem oor te neem. In hierdie bloedige slag word ’n Suid-Afrikaner, wat deel is van die Britse Leër, gewond en die jonge Mentje red sy lewe. Maar wat word van die wesie? Hoe oorleef ’n alleenkind gedurende die berugte Hongerwinter van 1944 en 1945? Irma Joubert is ’n geliefde naam in historiese fiksie. Al haar vorige romans was topverkopers en met Mentje, kind van Pas-Opkamp sit sy hierdie tradisie voort. Soos gewoonlik is haar navorsing puik. Die Pas-Opkamp het werklik bestaan. Foto’s is op die internet beskikbaar.

Irma Joubert is een van ons groot uitvoerprodukte. Beide haar Tussen stasies-trilogie en haar Pontenilo-trilogie, asook die eerste twee boeke van haar oorlogstrilogie, naamlik Immer wes en Mentje, kind van Pas-Opkamp, is in Nederlands vertaal, waar dit telkens onder die topverkopers tel. Vier van haar boeke is reeds in Duits vertaal en HarperCollins in Amerika het The girl from the train (Tussen stasies) in 2015 uitgegee. Kronkelpad verower in 2014 die BCB Publieksprijs in Nederland. In die VSA is The girl from the train was in 2016 ’n finalis vir die Christi-awards, ’n buitengewone eer vir ’n vertaalde werk, en is dit deur Logos Books aangewys as die “Best Book of 2015”.

Babalela

Die Babalela-storieboek
Martie Preller
Illustreerders: Andries & Erica Maritz
Volkleur, Hardeband, 210 mm x 297 mm
Ouderdom: 3+
ISBN: 9780799384239
R200,00

Diep, diep in ’n donker bos
waar die son net soms deur die takke loer,
diep, diep in ’n donker bos
waar die varings welig diepgroen staan,
diep, diep in ’n donker bos,
in ’n hol boomstomp, net onder ’n blaar,
woon die Babalela.

Duisende Afrikaanse kleuters ken die betowerende openingsrefrein van Martie Preller se immergewilde, bekroonde Babalela-boeke. Meer as 85 000 eksemplare van die vier titels in die reeks is al verkoop.

Kom kuier saam met die Babalela en sy maats Meermoskat, Knortand, Potifant, Wrrrumpie en die lawaaierige Fripperwakkies in die bos; kom beleef hope avonture!
Vir die eerste keer verskyn al vier Babalela-boeke nou saam in een storie-omnibus. Dit sluit vier stories in:

  • Babalela
  • Diep, diep in ’n donker bos
  • Los ons uit!
  • Ons kan!

Die Betty Misheiker-reeks

Hierdie reeks bestaan uit drie oulike prenteboeke gebaseer op die lirieke van Misheiker se immergroen kinderliedjies “Die lappop”, “Die eensame krokodil” en “Die dapper muis”. Geslagte Afrikaanse kinders het grootgeword met Betty Misheiker se prettige liedjies. Nou word hulle in hierdie pragtige, volkleurformaat uitgegee.

Die dapper muis
Betty Misheiker
Illustreerder: Chris Venter
ISBN: 9780799383775
R80,00

Ek’s ’n dapper muis, kyk hoe stap ek deur die huis,
en daar’s niks waarvoor ek skrik nie.
Vir niemand is ek bang, daar is niks wat my kan vang,
nee, daar’s niks waarvoor ek skrik nie.

En sê nou daar’s ’n kat …?

Die eensame krokodil
Betty Misheiker
Illustreerder: Johann Strauss
ISBN: 9780799383782
R80,00

Ooo …
Ek is ’n eensame krokodil.
Mense kyk vir my en gril.
Ek soek maters hoog en laag,
maar almal sê ek vreet te graag.

Die lappop
Betty Misheiker
Illustreerder: Karen Ahlschläger
ISBN: 9780799383799
R80,00
Iemand het ’n lappop op ’n ashoop weggegooi,
sy was gedaan en stukkend,
verbleek en nie meer mooi nie.
Op die ashoop hoor sy stemme praat
en dié verwelkom haar.
Maar o, ellende, toe sy kyk,
wat sien die lappop daar?
Net ’n vrot pampoen en ’n stukkende skoen,
’n grammofoonplaat en ’n kous sonder maat,
net ’n leë bottel bier, ’n verlepte angelier,
’n gelapte binneband en ’n ou koerant.

Niefiksie vir die jongklomp

My eerste 100 woorde
Dawn Sirett
Illustreerder: Charlotte Milner
Ouderdom: 0+
ISBN: 9780799383898
R140,00

Leer speel-speel woordeskat!

Hierdie stewige kartonboek dek al die bekende dinge waarin kleingoed belang stel, van my liggaam en my kos, tot diere, rygoed en slapenstyd. Kristalhelder foto’s wys die wonder van die regte wêreld, terwyl prettige illustrasies eenvoudige stories vertel wat leer aanmoedig; van pikkewyne wat in die sneeu en ys speel, tot ’n muis wat by ’n leer opklim om so hoog soos ’n baie lang kameelperd te wees!

Woordetikette moedig wys, benoeming en praatvaardighede aan, terwyl dit woordeskat en taal ontwikkel. My eerste 100 woorde is ontwerp om in te lig en te vermaak, en is die begin van jou baba se leer-avontuur – die wêreld is ongelooflik, beeldskoon, interessant en prettig!

Met 100 prente met byskrifte is hierdie prettige wys-en-sê-boek propvol dinge om oor te gesels, te leer en te glimlag.

My eerste 100 woorde is saam met ’n voorste opvoedkundige konsultant ontwikkel om te verseker dat:

  • Die benoeming van prente taal ontwikkel en woordeskat bou.
  • Die tematiese blaaie kennis van die wêreld ontwikkel.
  • Duidelike byskrifte vroeë leesgereedheid bevorder.

My ensiklopedie van baie belangrike dinge
Dorling Kindersley
Vertaler: Mia Oosthuizen
ISBN: 9780799383911
R300,00

Hier het ons ’n fantastiese eerste ensiklopedie, propvol feite, perfek vir jong slimkoppe wat nie kan wag om alles oor die wêreld te ontdek nie. My ensiklopedie van baie belangrike dinge verken temas soos diere, mense, planete, en baie belangrik, jouself!

Kinders kan uitvind wat ’n woestyn is, hoeveel kontinente daar is, leer om “hallo” en “totsiens” in verskillende tale te sê, en nog hope meer. Maak kennis met vegetariese dinosourusse, oulike troeteldiere, en reusagtige blouwalvisse; verken die verlede saam met grotbewoners, Vikings en Farao’s; kyk hoe ’n plant uit ’n saadjie groei; en ontdek waaruit ’n wolk bestaan.

My ensiklopedie van baie belangrike dinge is ’n asemrowende kombinasie van eenvoudige, treffende illustrasies, indrukwekkende foto’s en lewendige teks – ’n baie belangrike boek vir baie belangrike mense, en die perfekte eerste naslaanboek vir jong feitevrate.

Niefiksie vir volwassenes

Sielsiek: Die psiges van SA se koelbloedigste kriminele
Carla van der Spuy en Dr Henk Swanepoel.
ISBN: 9780799382914
R230,00

Waarom haak mense se koppe uit?

Chris Mahlangu, wat vir Eugene Terre’Blanche vermoor het, het hom nie net doodgeslaan nie, hy het hom letterlik aan stukke gekap met ’n staalpyp. Een jong man slaan ’n verpleegster met ’n stuk hout in die veld dood en haar kêrel tot in die hospitaal se waakeenheid. ’n Ander slaan beide sy aanneemouers bewusteloos met ’n krieketkolf en dan steek hy hulle meer as 20 keer elk in die bors met ’n mes, voor hy sy pa keelaf sny. ’n Manlike prostituut slaan sy vriend soveel keer met ’n knopkierie oor sy “onsedelike voorstelle” dat dié sterf aan ’n skedelbreuk. Waarom sal ’n heteroseksuele man wat by prostitute slaap ’n seun by winkelsentrum oplaai en met hom lol?

Vyf gevallestudies oor ware Suid-Afrikaanse geweldsmisdadigers, vertel deur ervare misdaadskrywer Carla van der Spuy en kliniese sielkundige Dr Henk Swanepoel.

Die boek bevat inligting oor persoonlikheidsversteurings, elke misdadiger se agtergrond, die dag van die misdaad, die hofsaak, Dr Swanepoel se onderhoude en bevindings tydens die verhoor, tot die opvolg tronkbesoek – van aangesig tot aangesig met die persoon.

Die boek is ook, oor ’n paar weke, in Engels beskikbaar as Disturbed (ISBN: 9780799382945).

Romanza en geestesgesondheid

Romantiese fiksie het groot geword en LAPA is trots op ons skrywers wat die rou seer van menswees kan aanspreek sonder om te wroeg. LAPA is ewe trots daarop dat die Romanza-logo op die voorblad enige leser sal gerusstel dat hierdie boek se einde hoop sal bied aan die karakters én die leser. Ons handelsmerk waarborg dit.

Oktober is Geestesgesondheidsmaand. Ons bied dus twee boeke wat kyk na die seer, maar ons skrywers doen dit met liefde en empatie.

Lees gerus self. LAPA is baie trots op ons Romanza-handelsmerk. Ons is baie trots op die hoop wat hierdie lekkerleesboeke aan ons mark beloof. Verder is ons ewe trots daarop dat Romanza moeilike onderwerpe op ’n sensitiewe manier aanspreek – iets wat te vore net in sogenaamde hogere letterkunde gebeur het!

 

Skakerings van liefde
Madelie Human
ISBN: 9780799385908
R200,00

Hoe lank straf die samelewing ’n meisie wat oor die tou trap? Baie lank, is Nadia se antwoord. Elke dag dink jy aan daardie seun wat jy weggeteken het. Om oorsee te vlug en ’n loopbaan na te jaag, help ook net ten dele.

Dan, eendag, sien sy haar kind op rolskaatse ry. Hierdie seun van haar het reeds ’n pa, al is dit sy aanneempa. Dat hy onlangs ’n wewenaar geword het, is nie regtig hoopvol nie. Wie kan hom kwalik kan neem dat hy agterdogtig, selfs vyandig, is toe hy uitvind hoe Nadia by hierdie oulike seuntjie van hom betrokke is?

Met stampe en stote leer sy die man beter ken.

Die aanneempa besef dat Nadia dalk ’n goeie ma sal maak, en die aanbod van ’n huwelik hang skielik bo haar kop. Wil die man vir háár hê, of dink hy net aan sy kind? Soek hy dalk net ’n lekker lyf, een wat reeds een maal té gou té gewillig was?

Romantiese fiksie het groot geword en LAPA is trots op ons skrywers wat die rou seer van menswees kan aanspreek sonder om te wroeg. LAPA is ewe trots daarop dat die Romanza-logo op die voorblad enige leser sal gerusstel dat hierdie boek se einde hoop sal bied aan die karakters én die leser. Ons handelsmerk waarborg dit.

Skakerings van liefde is Madelie Human se tweede SuperRomanza in die Skakerings-reeks. Dit volg op Skakerings van hoop wat in April 2017 verskyn het en uiters gewild is.

 

Moed vir die liefde
Marilé Cloete
ISBN: 9780799385786
R85,00

LAPA kondig trots aan dat ons Romanza-reeks weer eens grense breek. Romantiese helde moet mos perfek en foutloos wees, nie waar nie? Wel, nie in Marilé Cloete se Moed vir die liefde nie.

Dawid het ’n donker kant en dis nie bloot sy mooi hare nie. Dawid ly aan depressie.

Ja, Dawid, die man met die mooiste blou oë, wat die eerste kliënt in Renate se tatoe-studio gaan wees, sit met ’n wesenlike probleem.

Oktober is Geestesgesondheidsmaand. Die doel is bewusmaking en die skep van hoop. Dawid is ’n held, maar hy is ook ’n mens, soos so baie ander in die samelewing. Hy is nie perfek nie.

Hoe hanteer Renate hierdie inligting?

Beter nog, hoe hanteer die skrywer so ’n swaar onderwerp sonder om te verval in ’n gekners van tande? Want, as daar ’n Romanza-logo op die voorblad is, beteken dit die leser wéét daar is hoop.

Onthou: Depressielyers kan ook romantiese helde wees.

 

Hoe die liefde werk
Annarie Linde
ISBN: 9780799385816
R85,00

In Londen sit Wilmien die orige “Batman” en sy pel mooi op hul plek. Hoe durf hulle haar op haar rokkie en hoëhakskoene takseer? Terug op eie bodem kry sy ’n skok: Batman van die moltrein is haar nuwe baas se seun.

 

Vir nou, altyd en daarna
Felicia Snyman
ISBN: 9780799385847
R85,00

MacKenzie skep goeie aantreklike en intelligente vir-altyd-helde vir haar blog. Maar in haar wêreld is hierdie mans so skaars soos hoendertande… Of so dink sy totdat sy Scheepers Rossouw in die tou by die stembus ontmoet.

 

Man van die maand
Karlien Badenhorst
ISBN: 9780799385878
R85,00

Mia se redakteur vra haar om die Man van die maand-rubriek oor Luc Raath te skryf. Hier is haar kans om die pos as rubriekskrywer te verdien en niks mag verkeerd loop nie. Maar een kyk in Luc se groen oë en sy weet hier is moeilikheid.

 

Net in stories
Rika Cloete
R29,99
ISBN: ePub: 978-0-7993-8625-7
Mobi: 978-0-7993-8626-4

Koop dit hier

Altyd die strooimeisie, nooit die bruid nie. Dít is Maddie Schoeman. Totdat sy een keer opkyk in ’n strooijonker, Wynand Raath, se mooi oë. Skielik is liefde nie net in storieboeke nie, maar ook vir haar.

Bonuskortverhaal: As die blou roos blom deur Antionette Venter. Zea het Rick lief, daarom laat sy hom vry. Hy verdien nie ’n halwe vrou nie. Sal hy weer sy pad na haar toe terugvind of is dit haar lot om alleen te wees?

’n Wye, wye horizon
Madeleine Malherbe
R29,99
ISBN: ePub: 978-0-7993-8627-1
Mobi: 978-0-7993-8628-8
Koop dit hier

Stella herstel by die gastehuis Paradys ná die ontnugtering van haar huwelik. Chris kom ondersoek daar naby ’n vliegtuigongeluk en leer haar weer vertrou. Maar dan daag haar eks-man op …

Bonuskortverhaal! Storieboekliefde deur Cecilia Steyn. Nicola begin ’n posbusbiblioteek om haar nuwe bure te leer ken. Wie laat egter die mooiste liefdesverhale in die posbus? Kan sy hoop dis haar aantreklike buurman in nommer tien?

 

Waarom Romanza?

Hierdie handelsmerk vervul ’n bepaalde behoefte. Die goedvoel ná die lees van enige romanses skei dieselfde hormone af as wanneer ’n mens fisies iets doen wat jou laat goed voel. Dit help dus om swaarmoedigheid te verlig.

Romanza is ook die perfekte manier om jong meisies (van vyftien en ouer) aan die lees te kry. Navorsing wêreldwyd toon dat slegs 3% van alle romanselesers nie ook swaarder boeke lees nie. ’n Produk soos Romanza is dus ’n manier om jong mense lief te maak vir boeke.

LAPA gee elke maand vier vars Romanzas uit, ons gee ook nou ’n SuperRomanza uit en twee korter e-boeke.

Lesers wat by die Romanza-klub aansluit, kry boonop enorme afslag op LAPA se boeke.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest