Leesvordering:

Nuwe AfriForum-boek werp lig op vriendskap tussen Afrikaners en Hongare

Apr 3, 2024

Deur Marthinus Koekemoer

’n Nuwe boek is vandag tydens ’n paneelgesprek in AfriForum Teater bekendgestel wat die besonderse vriendskap tussen Afrikaners en Hongare in oënskou neem. Verhoudinge tussen Afrikaners en Hongare, 1652–2023: ’n Historiese perspektief op twee kultuurgemeenskappe is in Afrikaans en Engels gedruk en kyk na spesifieke gebeure sedert 1652 waar die vriendskapsbande tussen dié twee kultuurgroepe gebou is.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in sy verwelkoming verwys na die kontrak waarin elke geslag staan met dié wat voor hulle gegaan het en ná hulle kom om hul kultuur uit te bou en te bewaar. “Ons moet ook die vriendskap wat vorige generasies van Afrikaners met die Hongare opgebou het, verder uitbou en bewaar.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Ilze Nieuwoudt, skrywer van die boek en mediabestuurder by AfriForum, het vertel dat daar baie raakpunte in die geskiedenis van Afrikaners en Hongare is waarvan baie mense nie weet nie. “Alhoewel Hongare ’n land van hul eie het waar hulle in beheer van die regering is, is daar ook baie Hongare wat ná die herverdeling van lande ná die Eerste Wêreldoorlog buite die grense van die land en as minderheidsgroepe in ander lande woon.”

Ilze Nieuwoudt, mediabestuurder by AfriForum

Hongarye het ná die Verdrag van Trianon, wat na die afloop van die Eerste Wêreldoorlog gesluit is, omtrent twee-derdes van sy grondgebied verloor. Daar is byvoorbeeld dorpe in Roemenië wat twee name het. Een hiervan is die ou Hongaarse naam, terwyl dit ook ’n nuwe Roemeense naam gekry het en afhangend met wie ’n mens gesels kan die dorp as een of die ander bekendstaan.

’n Geselskap van die Solidariteit Beweging het in 2021 Hongarye op uitnodiging besoek waarna die Hongaars-Suider-Afrikaanse Vriendskapsvereniging (HSAV) op die been gebring is om verhoudinge tussen dié twee gemeenskappe verder uit te bou. Ernst Roets, hoof van Beleid en Strategie by die Solidariteit Beweging, was deel van hierdie geselskap. Hy het ook aan vandag se paneelgesprek deelgeneem en het met die 2021 besoek aan dié land reeds opgemerk hoe die Afrikaner-kultuur en dié van die Hongare op baie maniere ooreenstem.

“Wat my dadelik opgeval het, is hoe hulle soos ons ’n gebed doen voor hulle eet en hul kultuur geanker is in die Christelike geloof. Hulle is ook ’n konserwatiewe gemeenskap met sterk gesinswaardes waar elke persoon ’n rol het om in sy gesin te vertolk. Hongare koester dus dieselfde waardes as Afrikaners.”

Ernst Roets, hoof van Beleid en Strategie by die Solidariteit Beweging

Ná die Hongaarse Revolusie, wat in 1956 plaasgevind het, het soveel as 200 000 mense uit dié land gevlug om van kommunistiese onderdrukking te ontsnap. Omtrent 1 500 van hulle het na Suid-Afrika gekom. Afrikaners het ’n punt daarvan gemaak om hierdie mense te help om ’n lewe vir hulself in die land te skep. In Springs aan die Oos-Rand van Johannesburg is ’n inisiatief byvoorbeeld van stapel gestuur waarmee Afrikaner-gesinne ’n Hongaarse gesin “aangeneem” het en sodoende hulp aan hulle verleen het.

Met haar navorsing vir die boek het Nieuwoudt ook afgekom op Hongaarse navorsing oor die Anglo-Boereoorlog. “Daar was minstens 25 Hongare wat in dié oorlog geveg het waarvan die meerderheid aan die Boere se kant was. Hulle het ooreenkomste in die Boere se oorlog teen die Britte gesien wat soortgelyk aan die Hongaarse stryd vir vryheid was.”

Ná afloop van die boekbekendstelling is ’n dokumentêr, Boers in Carpathia, ook vertoon wat in Hongarye en Suid-Afrika verfilm is wat ook meer na die hedendaagse verhoudinge tussen Afrikaners en Hongare kyk. Die dokumentêr en boek word op 23 April in Hongarye aan die publiek bekendgestel en sal gratis op AfriForumTV beskikbaar wees. Die lokpret kan hier gekyk word.

Stuur navrae oor die boek aan ilze.nieuwoudt@afriforum.co.za.

Hierdie artikel het oorspronklik in Forum Nuus verskyn

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest