Leesvordering:

Nuwe belastingreël vir Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk

Feb 13, 2020

Die nasionale tesourie het die bepaling in die belastingwet gewysig wat ingesete Suid-Afrikaanse belastingbetalers (“tax residents”) vrystel van belasting op inkomste uit buitelandse werk. Tans betaal Suid-Afrikaners wat meer as 183 dae per jaar in die buiteland werk, insluitend minstens een tydperk van 60 agtereenvolgende dae, geen belasting in Suid-Afrika nie.

Kragtens die nuwe bepaling sal egter net R1.25 miljoen van Suid-Afrikaners se buitelandse verdienste vrygestel word van belasting. Alle vergoeding bo R1.25 miljoen sal in Suid-Afrika belas word. Hierdie wysiging tree aan die begin van die volgende belastingjaar op 1 Maart 2020 in werking.

Om te bepaal wie deur die nuwe bepaling geraak sal word, moet ‘n mens verstaan wie in Suid-Afrika as ‘n ingesete belastingbetaler beskou word. Die primêre toets hiervoor is of iemand gewoonlik in die land woonagtig is. “Gewoonlik woonagtig” is egter nie ‘n duidelik omskrewe begrip nie. Elke saak moet op eie meriete beoordeel word.

Die SAID het ‘n interpretasienota gepubliseer met verskeie faktore wat in ag geneem moet word by die bepaling van of iemand gewoonlik in Suid-Afrika woonagtig is. Dié faktore sluit die volgende in: die persone se nasionaliteit, waar hulle vaste, gevestigde woonplek is, waar hulle hul bates hou en waar hulle sake doen.

Die interpretasienota verwys nie na finansiële emigrasie nie. Jy hoef nie finansieel te emigreer om jou status as ingesete belastingbetaler op te hef nie, en die Suid-Afrikaanse Reserwebank se goedkeuring dat jy finansieel mag emigreer, beteken nie outomaties dat jy nie meer ‘n ingesete belastingbetaler is nie. Finansiële emigrasie kan dalk help om die SAID te oortuig dat jy nie meer Suid-Afrika as jou ware of hooftuiste beskou nie, maar dit op sigself sal nie jou status as ingesete belastingbetaler ophef nie.

Vir mense wat al baie jare in die buiteland woon en werk, kan dit maklik wees om te bewys hulle is nie gewoonlik in Suid-Afrika woonagtig nie. Al die faktore wat toon dat hulle in ‘n ander land woon – ‘n vaste betrekking, bates, beleggings en familie daar – behoort enigiemand te oortuig dat Suid-Afrika nie meer hulle hooftuiste is nie. Die nuwe bepaling behoort hulle dus nie te raak nie.

Dit beteken egter nie dat die SAID mense wat nie meer gewoonlik in Suid-Afrika woonagtig is met rus sal laat nie; inteendeel, wanneer mense hulle status as ingesete belastingbetalers van Suid-Afrika prysgee, word aanvaar dat hulle al hulle bates van die hand gesit het en dus kapitaalwinsbelasting moet betaal. Vir die doel van kapitaalwinsbelasting word aanvaar dat ‘n persoon van alle binne- en buitelandse bates ontslae geraak het. Die enigste uitsondering is vaste eiendom in Suid-Afrika.

Lees ook: Suid-Afrikaners wat oorsee werk kan moontlik in die toekoms dubbele belasting betaal

Opheffing van status as ingesete belastingbetaler

Die opheffing van ‘n persoon se status as ingesete belastingbetaler sal baie mense wat Suid-Afrika jare gelede verlaat het en nooit hul status by die SAID uitgeklaar het nie hoofbrekens besorg. As hulle nou hulle status as ingesete belastingbetalers ophef, sal hulle kapitaalwinsbelasting moet betaal op die vermeende verkoping van die bates wat aanvaar word dat hulle in daardie jare opgebou het.

Almal wat in so ‘n situasie is, sal wil bewys hulle het hulle status as ingesete belastingbetaler jare gelede prysgegee toe hulle nog baie minder bates besit het. Dit kan egter moeilik wees om te bewys dat jy inderdaad so lank gelede reeds elders woonagtig was, en jy kan aanspreeklik wees vir boetes en rente weens die nie-openbaarmaking aan die SAID van jou inkomste uit buitelandse dividende of verhurings.

Daar word nie aanbeveel dat jy wag en hoop die SAID vergeet van jou nie. Lande oor die wêreld heen deel deesdae inligting en dit stel die SAID toenemend in staat om Suid-Afrikaanse ingesete belastingbetalers wat jare gelede landuit is te identifiseer. Om aanspreeklikheid te verminder, sal ‘n vrywillige openbaarmaking beter wees as om te wag totdat die SAID jou opspoor; laasgenoemde kan selfs tot groter boetes lei.

Nie-opheffing van status as ingesete belastingbetaler

Die nuwe belastingbepaling sal nie net mense wat hulle status as ingesete belastingbetalers prysgee raak nie. Dit sal ook gevolge hê vir al die Suid-Afrikaners wat oral in die wêreld werk maar steeds hulle huise hier onderhou. In die meeste gevalle is hul gesinne en bates nog in Suid-Afrika, en hul bedoeling is duidelik om terug te keer.

Hierdie mense kan nie hulle status as ingesete belastingbetalers prysgee nie, en al hulle buitelandse inkomste sal vir belastingdoeleindes bydra tot hul bruto inkomste. Hulle moet hul totale inkomste – salaris én byvoordele soos akkommodasie en reiskoste – in beide lande verklaar; alle vergoeding bo R1.25 miljoen sal in Suid-Afrika belas word.

Enigiemand wat belasting betaal in ‘n ander land wat ‘n dubbelebelastingooreenkoms met SA het, sal egter vir korting in aanmerking kom. Hulle sal nie vrygestel word van belasting in Suid-Afrika nie, maar die korting sal hul Suid-Afrikaanse belasting verminder met die bedrag wat hulle reeds in die vreemde land betaal het.

Die algemene reël is dat ingesete belastingbetalers van SA belastingpligtig is op hul wêreldwye inkomste. Artikel 10(1)(o)(ii) maak egter voorsiening vir belastingvrystelling van vergoeding wat buite SA verdien is indien die werknemer meer as 183 volle dae oor ‘n tydperk van 12 maande buite SA spandeer het en indien daardie 183 dae ‘n tydperk van 60 agtereenvolgende dae buite SA insluit. Die doel van hierdie vrystelling is om verligting te bied aan Suid-Afrikaanse ingesete belastingbetalers wat belasting betaal in SA én in die land waar hulle werk, aangesien die meeste lande buitelanders se inkomste in hul land volgens ‘n LBS-tipe stelsel belas.

Baie individue werk egter in lande waar buitelanders nie belastingpligtig is nie. Sulke individue betaal dus geen belasting op hulle vergoeding nie – nie in SA nie en ook nie in die buiteland waar hulle werk nie. Hierdie situasie van dubbele niebelastingpligtigheid is onbillik, aangesien dit in stryd is met die bedoeling van die artikel 10(1)(o)(ii). Die bedoeling van die artikel is immers voorkoming van dubbele belasting op dieselfde inkomste en nie dubbele niebelastingpligtigheid op buitelandse inkomste nie.

Om die situasie van dubbele niebelastingpligtigheid op buitelandse inkomste te beëindig, is die artikel in die Wysigingswet op Belastingwette (No. 17 van 2017) gewysig. Dit word op 1 Maart 2020 van krag. Aanvanklik was die bedoeling om artikel 10(1)(o)(ii) in sy geheel te herroep. Na dringende vertoë deur individue wat geraak word, is die voorstel egter gewysig om die vrystelling van R1 miljoen buitelandse vergoeding te behou indien ‘n persoon aan die vereistes van artikel 10(1)(o)(ii) voldoen.

Persone wat steeds ingesete belastingbetalers in SA is al werk hulle in die buiteland, se vergoeding bo R1 miljoen sal by hul SA belasbare inkomste ingesluit word.

Praktiese implikasies vir SA ingesete belastingbetalers

  1. Iemand wat meer as R1.25 miljoen verdien in ‘n land waar buitelanders nie belastingpligtig is nie, sal waarskynlik in SA belas word op daardie inkomste.
  2. Mense wat meer as R1.25 miljoen verdien in ‘n land waar die belastingkoers laer as in SA is, sal waarskynlik in SA aanspreeklik wees vir daardie verskil.
  3. Indien mense in SA belastingpligtig word nadat hulle net soveel of meer belasting betaal het in die land waar hulle gewerk het, kan dit tot dubbele belasting lei.
  4. Waar dubbele belasting moontlik is omdat mense reeds belasting betaal in die land waar hulle werk, sal verligting waarskynlik beskikbaar wees ingevolge die artikels oor buitelandse belasting in die Inkomstebelastingwet of die Dubbelebelastingooreenkoms (DTA).
  5. Indien mense geregtig is op buitelandsebelastingkrediet of verligting kragtens ‘n DTA, moet ‘n belastingaanwysing van die SAID verkry word om te kan aansoek doen om die beskikbare belastingverligting. In sulke gevalle is dit belangrik om advies in te win oor hoe om vir ‘n belastingaanwysing aansoek te doen en om vas te stel of die aansoek jaarliks herhaal moet word.

Die verandering raak slegs individue wat Suid-Afrikaanse ingesete belastingbetalers is. Baie Suid-Afrikaanse burgers wat in die buiteland werk, is vir belastingdoeleindes nie meer ingesete belastingbetalers nie en word nie geraak nie. In sulke gevalle sal die individue moontlik aan die SAID moet bewys dat hulle nie gewoonlik in SA woonagtig is nie. Dit is makliker om te bewys as die individue finansieel geëmigreer het en aandui hulle bedoeling is om ingesete belastingbetalers van die ander land te word.

Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, word aangemoedig om professionele advies in te win oor die toepaslike assessering van en beplanning vir die impak van die nuwe reëls op hul toekomstige belastingaanspreeklikheid. Almal gaan nie eenders geraak word nie, en spesifieke advies oor elkeen se persoonlike situasie is noodsaaklik. Baie Suid-Afrikaners se status as ingesete belastingbetalers het waarskynlik al verval en hulle situasie is dalk beter as wat hulle gedink het.

Daar is nog tyd om dubbele belasting te voorkom deur voor Maart 2020 reëlings met die SAID te tref. Kontak gerus die belastingkonsultant Fanus Jonck (tax@jonck.net) met al jou navrae.

Meer oor die outeur

Fanus Jonck

Fanus Jonck is 'n ervare belastingskonsultant. Kontak hom gerus vir enige belastingsverwante navrae deur 'n e-pos te stuur na tax@jonck.net

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest