Ons – ek en my seun – probeer om elke jaar op ’n ernstige motorreis te gaan of ‘n aktiwiteit aan te pak. In die verlede het ons ’n paar dae by die bekende Goodwood-wedrenbaan deurgebring of die Le Mans Classic in Frankryk bygewoon. Vanjaar is ons deur die mooie berge, diepgroen dale en die dramatiese Atlantiese kuslyn van noordelike Spanje gelok. ’n Paar van my pasiënte, ook entoesiaste van klassieke motors, het my vertel hoe aangenaam dit is om die stil paaie in die sprokiesagtige berge van die Picos de Europe- nasionale park aan te durf. Hulle het ons ook aangeraai om in die Paradores-hotelle te oornag as ons die paaie daar aandurf. Dit het heel aanloklik geklink, maar ek was effe afgesit toe ek besef dat die Paradores deur die staat beheer word. Dit het na grys geboue, swak diens en slegte kos geklink. Die Paradores-hotelle is die algehele antitese van verbeeldingloosheid en middelmatigheid omdat elkeen ’n historiese gebou is. As jy dus besluit om in ’n parador te bly, mag jy jouself heel moontlik in ’n Kastiliaanse kasteel, gerestoureerde klooster of voormalige koninklike jaghuis bevind. Die eerste parador is in 1926 geopen, en sedertdien het hulle ’n bekendheid vir uitstekende diens en topgehalte, plaaslike kookkuns in verstommende plekke verwerf.

In die motor op pad na die hawestad Plymouth kon ek nie anders nie as om herinneringe op te haal van die 45 jaar wat ek nou al klassieke motors bestuur – sedert die eerste Lamborghini, toe die besturende direkteur van Lamborghini in Engeland ’n pasiënt van ons was in Putney, Londen. En tog was ek rusteloos en het ’n nuwe Ferrari gekoop om in 1976 terug te neem huis toe. Terug in Suid-Afrika was dit die vroegoggend ontbytritte al langs die paaie van die Magaliesberg-omgewing wat deur die Ferrari-klub gereël is, die naweke in die Laeveld of die selfgereëlde uitstappies op die redelik verlate hoofweg op pad Bronkhorstspruit toe wat vandag nog uitstaan. My lang vriendskap met twee ander Ferrari-liefhebbers, Dawie Theron en Johan Meyer, was waardevol omdat motors kom en gaan, maar vriendskappe bly staan. Ek tree binnekort af, so die voorraad uitheemse ysterhingste sal binnekort net skielik ophou – en dié gedagte het ons reis net soveel meer spesiaal gemaak.

Ek het by die sogenaamde supermotorry vir die 24-uur-veerboot aangesluit. Tot my verbasing was daar 12 ander Lamborghini’s in dieselfde tou! Die ander ry het bestaan uit klassieke motors uit die 70’s en 80’s, soos Mercedes Benz SLC’s, BMW-koepees en Ford Escort Mexico’s. Dit het ’n ruk geneem om die enorme veerboot te laai, want dit dra 2 400 passasiers en 650 motors. As mens aan boord is, is daar baie om te doen. Daar is ’n legio restaurante en kroeë, ’n fliekteater en selfs ’n swembad.

Ons het die volgende middag in Santander aangekom, wat die hoofstad van Asturië en Kantabrië is. Ek moes jaag om brandstof in te gooi en my seun by die lughawe op te tel. Dit het my verplig om vir die eerste keer van die Ferrari se satellietnavigasiestelsel gebruik te maak terwyl ek boonop moes konsentreer om aan die “verkeerde” kant van die pad te bestuur. Ons het ons tye reg beplan, want ek het sowat 15 minute daar aangekom ná hy deur paspoortbeheer is. Ek was heel gemaklik daarmee dat Simon bestuur en boonop sy foon inspan om ’n genotvolle maaltyd op te spoor, want ons was teen dié tyd doodhonger. Ons het uiteindelik by ’n kleinerige dorpie genaamd Luarca aangekom, waar ons tot 21:30 moes wag dat die La Tiza-eet-en-drinkplek moes oopmaak. Vir ons oumense klink 21:30 byna na bedtyd, as ek eerlik moet wees. Ons het twee disse gedeel: die een was ’n bulstert in sjokoladesous, die ander een varknek saam met iets ongewoons soos eiervrug. Hoewel albei disse heerlik was, het dit ons “Boere-eetlusse” nie naastenby versadig nie, en so het ons iewers tradisionele eetgoedjies by ’n laatnagwinkel aangeskaf. Ons eerste hotel was klein, intiem en vriendelik; boonop met ’n pragtige uitsig.

Die volgende dag was ons langste rit vir ’n enkele dag, al langs die ongelyke Atlantiese kuslyn op pad na ’n dorpie met die naam Baiona in die provinsie van Galisië. Hierdie dorpie was in 1493 die eerste om te hoor dat Christopher Columbus die Nuwe Wêreld ontdek het toe sy karvele hier aangeland het. Ons eerste parador was die grootse Monterreal-kasteel, ’n plek waar geskiedenis en legendes in oorvloed is, want verskeie kulture en beskawings het hul spore hier gelaat. Die konstruksie van die oorspronklike gebou het iewers in die 12de eeu ’n aanvang geneem en die kasteel- en fortmure beslaan vandag ongeveer 18 hektaar. Deur die eeue heen het verskeie Katolieke konings dié kasteel gebruik om dié deel van die Rias Baixas-kuslyn te verdedig en beheer. In die ontvangsarea verleen die enorme trap en skitterende kroonlugter ’n koninklike atmosfeer aan die vertrek.

Die hele plek het gedruis met aktiwiteite, want ’n mediese konferensie is daar aangebied. Die elegante gemeenskaplike vertrekke het uit hul nate gebars met kongresgangers wat geregistreer het om lesings of kursusse by te woon, en daar was lang tafels waarop mediese instrumente en gereedskap uitgepak is. Met die Wêreldbeker-rugbytoernooi aan die gang, het ek het van die geleentheid gebruik gemaak om die Suid-Afrikaanse vlag oor die Ferrari se instrumentepaneel te drapeer, want ’n spul mense het op en af deur die parkeerterrein geloop. Ná ’n lang stap al langs die gefortifiseerde mure het ons rustig in die groot swembad gaan swem, wat vreemd genoeg op dié warm dag geen aftrek gekry het nie.

Die Woensdag het ons die rigting binneland toe ingeslaan, al langs die Minorivier. Ons het ’n dorpie genaamd Ourense aangedoen, wat bekend is vir geotermiese warmwaterbronne. Die oorspronklike klipbrug oor die rivier is deur die Romeine gebou en staan as die Ponta Vella bekend. Die dorp is langs antieke pelgrimroetes geleë, waarvan die belangrikste seker dié van Sevilla na Santiago de Compostela is. Ons kon nie die versoeking weerstaan het om vir ’n lang ent langs die skaduryke rivieroewer te gaan stap nie – en uiteindelik op ons spore terug gestap, want ek het heel verkeerdelik gedink dat ek my sonbril iewers langs die pad verloor het.

Ons het die satellietnavigasiestelsel daarna op ons volgende bestemming ingestel, maar het ’n wilde Kaapse draai gery. Dit blyk toe ná die tyd dat daar twee Santo Estevo’s aan verskillende kante van die berg is. Uiteindelik het ons stadig vir wat na eeue gevoel het deur nimmereindigende woude op smal bergpaaie gery. Die motor se dak was afgeslaan en al ons ongeduld het soos mis voor die son verdwyn toe ons begin om die geure en reuke van al die verskillende plante en bome in die groen landskap om ons te ruik. Ons het uiteindelik by ons bestemming aangekom: die vergeleë en manjifieke klooster van Santo Estevo De Ribas De Sil. My eerste indrukke het my laat wonder hoe op aarde hulle dit reggekry het om dié reusagtige en wonderlike gebou in so ’n bergagtige omgewing te kon oprig, boonop so ver van die naaste dorp. Na alles is die vroegste gedokumenteerde geskiedenis van die klooster al in 921 opgeteken, toe die heersende koning die kloostervader Franquila ’n verwoeste en verlate gebied gegee het om ’n basilika en klooster hier te bou.

Ná ons ingeteken het, het ons besluit om in die omliggende woude teen die styl berghellings te gaan stap. Simon het een van die vae klein plaaslike kaarte saamgeneem wat veronderstel is om die verskillende staproetes aan te dui. Ons het heel entoesiasties begin, en gestap en geklim, en geklim en gestap. Dit het gevoel of dit vir ewig aanhou, maar twee en ’n half uur later was ons darem weer terug in ons lieflike kamer. Teen daardie tyd het my Garmin Fitbit al 28 000 treë en 85 trappe aangeteken! Geen bier het nog ooit so lekker geproe nie. Die opelug  eetkamer is in ’n oorhangende deel wat oor die enorme woude teen die styl hange uitkyk.

Ons Donderdag-roete op pad na die dorp Corias het ons in ’n oostelike rigting steeds dieper die binneland in geneem deur oop, plat kontrei. In Corias het ons parador met ’n swembad in op die kelderverdieping gespog. Ons het besluit om te gaan uiteet en het ’n hele ent deur die armer deel van die stad na ’n redelik eenvoudige, tog vriendelike restaurant wat heerlike steaks bedien het (ons kon dit nie opeet nie).

Ons laaste rit na Santander het ons weer eens deur asemrowende berge en dale geneem, met vryvloeiende riviere tussenin. As mens soveel pragtige uitsigte raaksien, kan mens maklik in die versoeking kom om elke paar minute stil te hou net om dit alles te kan inneem. Ons het vroeg in Santander aangekom, gou-gou ingeteken en toe afgeloop strand toe, wat gelukkig vir ons wyd en sanderig was.

Ons hotel was in ’n pragtige deel van die stad met die boomryke esplanade wat kilometers lank langs die strand uitstrek. By een van die strandkafees – wat deur ’n plaaslike man met ’n Amerikaanse aksent bestuur word – het ons heerlike seekat in ’n lemoensous geëet. Dit is sonder twyfel ’n plaaslike fynproewersdis. Die eienaar het aan ons verduidelik dat hy ’n paar jaar in Miami gewoon het, maar so erg na sy tuisdorp verlang het dat hy liewer teruggekom het.

Ek was op die laaste dag op my eentjie omdat Simon die vorige aand teruggevlieg het VK toe. Ek was vasbeslote om die wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks te kyk, en het my daarom na ’n nabygeleë sportkroeg begeef. Tot my verbasing was die plek stampvol, ten spyte daarvan dat Spanje in die Wêreldbeker-rugbytoernooi deelgeneem het nie. Ek het heel goed met ’n paar van hulle oor die weg gekom en een ou vertel toe dat hy sy Springboktrui sou gedra het as hy nie soveel gewig opgetel het en nie meer daarin kon pas nie. Dit was tyd om die veerboot terug huis toe te neem en dié keer wag daar ’n ander verrassing op my waar ons in die tou inval: ’n Tipe 35-Bugatti uit die 1930’s in die tradisionele blou Franse motorresieskleure. Ek het nog nooit voorheen so ’n waardevolle motor (meer as ₤2 miljoen werd) op die oop pad gesien nie en gewonder of dit ’n uitstekende replika was. Dit het egter heel outentiek gelyk en die ander omstanders het saamgestem.

Die 24 uur op die Cap Finistere het my genoeg tyd gegee om alles wat ek gesien het en my indrukke van noordelike Spanje te verwerk: die besonders skilderagtige skoonheid, die verskillende en tog stylvolle paradors met hul unieke historiese waarde, die verskeidenheid van bosreuke wat ons in stadige aksie op die eng bergpaaie geniet het, die vriendelike, warm mense en die lang voorwinterse swem in die Atlantiese golwe.

Maar die reis het ons twee opnuut weer saamgebind, en ons het vir ’n verandering weer tyd gehad om kwessies, probleme en drome van ons verskillende leeftye te bespreek. Ek kan nie wag om volgende somer weer terug te kom nie.

 

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Pieter de Lange
Pieter de Lange

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest