Leesvordering:

Oorhaastige besluite om skok van belasting op buitelandse inkomste te verlig, kan jou duur te staan kom

Okt 16, 2019

Deur Amanda Visser

Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon en werk het nog net ses maande om die fundamentele verandering in die manier waarop hul buitelandse inkomste in die toekoms belas sal word doeltreffend te hanteer. Die belastingvrystelling van buitelandse inkomste – Artikel 10(1)(o)(ii) van die Inkomstebelastingwet – word dan tot R1 miljoen beperk en alle buitelandse inkomste wat dié bedrag oorskry, sal teen die individu se normale koers belas word met tot 45%.

Baie Suid-Afrikaners is nog onseker hoe die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) hierdie verandering gaan aanpak, hoe dit hulle sal beïnvloed en wat hulle moet doen, sê Jonty Leon, bestuurder van belastingreg vir uitgewekenes by Tax Consulting SA. Werkgewers het ook die impak van die wetsverandering op hulle oorweeg en besef dat hulle waarskynlik die ekstra belastingkoste sal moet dra wat aan Suid-Afrikaanse uitgewekenes opgelê gaan word. “Dit kan ernstige gevolge vir Suid-Afrikaners hê, want ‘n meer kostedoeltreffende oplossing kan wees om Suid-Afrikaanse werknemers te repatrieer en hulle te vervang met buitelanders uit ‘n minder strawwe belastingjurisdiksie,” sê Leon.

Sedert die verandering bekendgemaak is, is daar baie onsekerheid en selfs verkeerde inligting oor maniere om die impak daarvan te verminder. Die SAID het verlede week ‘n verklaring en ‘n lys vrae wat dikwels opduik uitgereik om werknemers, werkgewers en die publiek te help. Die doel met die lys is om duidelikheid te bring en om seker te maak dat sekere praktiese en tegniese aspekte rakende die wysiging konsekwent hanteer word, het die SAID in ‘n verklaring gesê.

Een van die kernoorsake van die verwarring hou verband met formele emigrasie en die effek daarvan op belastingverblyf. Die SAID stel dit duidelik in die FAQ-dokument dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se goedkeuring om finansieel te emigreer nie verband hou met ‘n individu se belastingverblyf nie. “Finansiële (formele) emigrasie is slegs een faktor wat in ag geneem word om te bepaal of ‘n individu se belastingverblyf opgeskort is of nie.” Jou belastingverblyf word nie outomaties opgeskort as jy finansieel emigreer nie. Die beslissende faktor bly of jy normaalweg in SA woonagtig is of nie.

Hugo van Zyl, ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingkundiges se werkgroep oor persoonlike belasting sê om die land te verlaat en SAID in te lig is nie voldoende nie. Om vir belastingdoeleindes as nie-inwonend beskou te word, word ‘n individu jaarliks onderwerp aan die toetse van normale verblyf en fisieke teenwoordigheid. Dit is egter moontlik om ingevolge ‘n dubbelebelastingooreenkoms tussen Suid-Afrika en ‘n ander land beskou te word as ‘n inwoner van die ander land. As iemand dan vir belastingdoeleindes as ‘n nie-inwoner beskou word, sal geen inkomste wat in ‘n buitelandse jurisdiksie verdien word aan Suid-Afrikaanse belasting onderworpe wees nie.

Verskeie rolspelers in die belastingbedryf het verwarring veroorsaak deur aan te dui dat formele emigrasie ‘n seker manier is om belasting op buitelandse inkomste te vermy. Elzahne Henn, belastingdirekteur by Mazars, sê indien die proses vir finansiële emigrasie korrek gevolg is, is dit ‘n objektiewe faktor kan aandui dat iemand van voorneme is om belastingverblyf in Suid-Afrika op te skort. Sy sê dit is beslis nie afdoende bewys dat belastingverblyf opgeskort is nie. ”’n Finansiële emigrasie wat korrek hanteer is, lewer nie volgens ons vir SAID voldoende bewys dat die belastingbetaler vir belastingdoeleindes ‘n nie-inwoner is nie,” waarsku sy. Jou status as nie-inwoner vir belastingdoeleindes word jou totale omstandighede bepaal en nie deur ‘n enkele aspek nie. “SAID kan jou voorneme om finansieel te emigreer bevraagteken as ander objektiewe faktore daarop dui dat Suid-Afrika steeds jou hoofwoonplek is.”

Belastingkundiges waarsku teen oorhaastige besluite om formeel te emigreer of om vir belastingdoeleindes ‘n nie-inwoner te word, aangesien die “sogenaamde vervreemding” kapitaalwinsbelasting op die individu se bates wêreldwyd meebring wanneer hy ‘n nie-inwoner word. Dit kan ‘n baie duur oefening wees.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest