Leesvordering:

Reisavonture met ketels en krane

Jun 1, 2022

Deur Alana Bailey

Soms is die onbekende en uitdagings net wat jy nodig het. Dit is juis waarom mense reis as ’n verrykende ervaring beskou. Ander kere is jy verplig om op ver paaie te gaan, is jy moeg en is al die vreemde dinge later net te veel vir jou.

Aan die een kant kan dit die groter goed wees – ander kulture, vreemde tale, onverstaanbare vervoerstelsels, onbekende besigheidsetiket – maar hier praat ek van die mees basiese goed wat vir die niksvermoedende mens in jou gaste-, hotel- of Air B&B-kamer wag.

Vir ’n toegewyde koffiedrinker soos ek is dit altyd belangrik dat die kamer ’n ketel moet hê. Soms stap jy in en sien ’n model wat soos ’n ou vriend tuis lyk. Ander kere is dit iets wat voorkom asof daar al ruimtewesens tuisgegaan het en hulle apparaat daar vergeet het. Dan is daar ook die kere wat ’n uitgerafelde elektriese koord en geduikte blikketel jou laat wonder of daar ’n komplot teen jou gesmee word – wil iemand jou dalk elektrifiseer?

Daar is versteekte en sigbare knoppies en armpies wat moet op-, af- of ingedruk word, nugter weet watter beweging nodig is, want die ketel neem eeue om te kook. Dit kan dus ’n lang wag beteken as jy onseker is en die verkeerde opsie gekies het.

Alana Bailey

Dan is daar die modelle met ligte – meestal gaan dit aan as dit moet kook, maar soms juis as die ketel nie gaan kook nie. In een kamer het ek ’n induksieplaat en ketel aangetref met ’n instruksieboek meer ingewikkeld as my matriek wiskundehandboek. Om van my vrees vir gasstowe nie eens te praat nie – hoe weet ek of ek die gas werklik ten volle toegedraai het? Toe ek vier was, het ons in Amanzimtoti vakansie gehou en my pa het hom bles geskroei met die trek van ’n vuurhoutjie by so ’n gasplaat. Dan is daar ook nog die sluwe model wat onverwags met ’n skel gefluit lostrek wat mense in kamers drie verdiepings verder sal laat wakkerskrik en ’n woedende gehamer aan jou mure veroorsaak as jy laatnag ’n laaste koppietjie drinkgoed wil maak.

Nog meer ingewikkeld is krane. Daar is die gewones en dankie tog vir hulle. Bo is ’n knop wat jy draai – oop en toe, moeitevry. Maar dan is daar die met ’n sensor wat self besluit wanneer om te tap en op te hou. Dan moet jy hulle met swaaiende arms soos ’n lugverkeerbeheerder probeer oortuig om weer te tap, aangesien jou hande steeds twee skuimbolle is. Soms is daar ook ’n hefboom bo-op of langsaan wat jy moet trek in ’n rigting en dan is die dilemma dat jy nie noodwendig altyd die waterstroom weer gestop kry nie en op hulp moet wag. Een aand ver van huis, het my vriendin Sarita en ek alles moontlik probeer in ’n lieflike badkamer om ons hande te was. Daar was massas regte lewendige orgideë in volle blom, spieëls alom, gedempte musiek, ’n dik tapyt, asemrowende mooi groen marmerteëls, kristalglashouers met vloeibare seep en handeroom … maar geen sigbare manier waarop ons die goue krane kon oortuig om water te tap nie.

Terwyl ek die armswaaidans doen, ingeval daar bewegingsensors is, het sy sistematies aan alles gedruk en gedraai wat ons kon sien op die wasbakoppervlakte en teëls teen die mure. ’n Waardige dame het ons verdwaas staan en aanstaar, na ’n paar minute na vore getree, liggies op ’n piepklein pedaaltjie op die vloer getrap … en siedaar.

Solank jy trap, is daar ’n heerlike warm stroom water. Ons het hande gewas en uitgestap met ’n gedempte dankie en baie rooi wange. Ons was so drie treë anderkant die deur toe ’n dawerende gelag agter ons weerklink het.

Nouja, as jy reisvars is, is dit wat die lewe interessant maak. Ander kere sorg dit vir die herinneringe waaroor ’n mens jare later nog lekker saamlag.

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest