Leesvordering:

Stap deur Yorkshire se Raincliffe Woods

Mar 28, 2019

Raincliffe Woods bestaan uit net meer as 150 hektaar antieke woude en is die tuiste van baie boomspesies, waaronder die inheemse elshout, haselneut en eshout. In dele van die bos is daar Westerse rooi sederhout, ’n groot Amerikaanse boom. Dié bome met hul wye takke en groot blare gooi skadu oor die woud se vloer en min plante groei onder hulle. Naaldbome en ander uitheemse boomspesies is ook daar aangeplant vir die kommersiële produksie van hout en houtskool.

Sedert die 1950’s is ’n groot deel van die bos herplant ná eeue van ontbossing en kommersiële afkappery. Indringerbome word geleidelik uitgedun en inheemse spesies word hervestig deur die Woodland Trust en Raincliffe Wood Community Enterprise.

Op die woudvloer is daar woodrush, mos, sneeuklokkies, blouklokkies en in die vroeë lente pragtige affodille. Vir die fauna-entoesiaste is die boomtoppe vol singende voëls. En as jy saggies loop, kan jy dalk ’n trop takbokke of ’n skaam jakkals raakloop.

Die Raincliffe Woods is te steil en nat vir boerdery, maar dit is die ideale plek om teen opdraandes te oefen of in die modder te stap. Ek het die roete gevolg wat die AA in hul 2017-uitgawe van 50 Walks in North Yorkshire gepubliseer het, maar jy kan ook goeie aanwysings op hulle webwerf kry. Die ± 8 km of 5 myl lange roete het ’n medium moeilikheidsgraad en bestaan uit veldpaadjies en ’n paar baie steil bospaadjies deur die pragtige Yorkshire-landerye en -heuwels. Dit gaan ook verby Throxenby Mere waar jy op bankies kan sit en rus.

Die woud en wandelpaaie is elke dag oop vir die publiek en dit is heeltemal gratis. Daar is baie parkeerplekke oral in die bos, maar parkeer by die Hazelhead-piekniekterrein in Mowthorpe Road. Raincliffe Woods is ’n gewilde plek vir Sondagwandelings en bergfietsry, en dit is ’n goeie plek om met jou opgeleide hond sonder ’n leiband te gaan stap. Moenie verbaas wees as jy perde op die roete teenkom nie; die bos is gewild onder plaaslike ruiters.

Die steiler dele van die roete kan glad, oneweredig en baie veeleisend wees. Maak dus seker jy dra die regte skoene en vat ’n bottel water saam. Daar is nêrens badkamers of eetplekke op die roete nie, maar as jy gelukkig is, sal jy in die somer die roomyskarretjie teenkom.

Vir meer inligting oor die woud en wandelpaaie, besoek DiscoverYorkshireCoast of die Raincliffe Woods Community Enterprise se webtuiste.

Besoek Luzanne se blog hier.

Meer oor die outeur

Luzanne Fletcher

Luzanne Fletcher is gebore in Johannesburg en het in Krugersdorp aan die Wes-Rand grootgeword. Ná sy haar studies aan die Noordwes Universiteit voltooi het, het sy vir ’n jaar as ’n fotograaf op P&O Cruises Australia se plesierbote (cruise ships) in Australië gaan werk. Dit was haar eerste ervaring van in die buiteland bly. Buiten Australië het sy ook die geleentheid gehad om onder meer Nieu-Seeland, Fidji, Tonga en Singapoer te besoek. Dit is ook op een van hierdie plesierbote waar sy ’n aantreklike Engelsman ontmoet het. Ná haar tyd op die skepe het sy na Suid-Afrika teruggekeer en in die mediabedryf begin werk. Ná ’n langafstandverhouding van twee jaar met haar Engelsman het hulle in Suid-Afrika afgehaak en is sy vanaf Desember 2017 voltyds in Scarborough – ’n klein dorpie aan die noordoostelike kus van Engeland – gevestig.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees in Richmond

Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees in Richmond

Hallo, Jaco! Dit is lekker om met jou te gesels. Die Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees het op 19–21 April 2024 plaasgevind. Vertel ons meer. Verlede jaar het ons 500 feesgangers gehad, wat dit die grootste byeenkoms van Suid-Afrikaners in die VSA gemaak het. My doel...

Om teen treine te skree: 11 nuwe dramas vir hoërskole

Om teen treine te skree: 11 nuwe dramas vir hoërskole

Deur Tanya Viviers Die bundel bevat elf nuutgeskrewe dramas met as sentrale tema tieners se smagting na aanvaarding en om as jong volwassenes in die samelewing hul eie identiteit te vind. Die tekste wys onder meer hoe tieners as helde en gewilde mense deur hul...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest