Leesvordering:

Afrikaanse ondernemings in buiteland vereer

Feb 24, 2022

Deur Sue-Ann de Wet

Afrikaans kook letterlik én figuurlik in die buiteland en ondernemings hier se passie vir enigiets Afrikaans is vanjaar vir die eerste keer as deel van AfriForum Sakenetwerk se jaarlikse Tinteltong Toekennings vereer.

Dié toekenningsgeleentheid, wat jaarliks as deel van Internasionale Moedertaaldagvieringe aangebied word, is in Februarie reeds vir die sewende agtereenvolgende jaar gehou. Hierdie jaar het die toekennings, na aanleiding van die samewerking met AfriForum Wêreldwyd, ’n internasionale element bygekry en buitelandse ondernemings is in twee nuwe kategorieë van dié toekennings vereer.   

Volgens Sue-Ann de Wet, AfriForum se hoof van Diaspora, is die erkenning van innoverende Afrikaanse ondernemings in die buiteland noodsaaklik. “Dit is vir ons belangrik dat Afrikaans bevorder en lewendig gehou word in die buiteland. Ons wil graag erkenning en gratis bemarking gee aan Afrikaanse ondernemings en diensverskaffers op AfriForum Wêreldwyd se netwerk.”

Hoewel daar oorspronklik slegs een toekenning in die internasionale kategorie beoog is, was die terugvoer só positief en oorweldigend dat die organiseerders besluit het om eerder twee afsonderlike toekennings aan buitelandse ondernemings te maak. Nagenoeg 2 500 stemme is in die internasionale kategorie ontvang en op 23 Februarie 2022 is die wenners in dié nuwe afdelings (naamlik “Afrikaans in die buiteland” en “Trooskos in die buiteland”) aangewys.

Afrikaans in die buiteland

In dié kategorie het die Australiese onderneming Boekwurm gewen. Dit is ’n aanlyn Afrikaanse boekwinkel wat verspreiding oor die hele Australië doen. Die onderneming fokus op die verkope van Afrikaanse kinderboeke, resepteboeke, Bybels en Bybelstudiemateriaal vir gesinne – kortom, boeke wat nie juis met digitale alternatiewe vervang kan word nie. Dit is vir sowel gesinne in Australië as familielede en vriende in Suid-Afrika ’n fantastiese, vinnige en gerieflike manier om hul ekspatkinders in Australië te bederf.

“Ek wil help om mense in Australië opgewonde te hou oor Afrikaans as moderne, dinamiese wêreldtaal. Met die 2016-sensus was daar al meer as 40 000 Afrikaanse huistaalsprekers in Australië. Dit sou waarskynlik sedertdien met immigrasie toegeneem het, maar die realiteit is dat die volgende generasie die Afrikaanse taal maklik kan verloor as ouers nie fokus op tweetaligheid en doelgerigte Afrikaanse gesprekvoering nie,”


Jeannie van Zyl, eienaar van Boekwurm.

Boekwurm deel ook gereeld op sosiale media Afrikaanse leermateriaal oor die taal en kultuur, asook inligting oor Afrikaanse liedjies, woordeskat, doendinge, versies, geskiedenisbrokkies, tweetaligheid en algemene leerstof in Afrikaans.

Trooskos in die buiteland

Michelle se Kombuis (Namibië) is die waardige wenner in dié kategorie. Dié onderneming maak gevriesde geregte, ingelegde produkte en lekkernye. Die gevriesde geregte kan in ’n japtrap voorberei word en is ideaal vir studente en selfs bejaardes.

Sandri Olivier, eienaar van die Namibiese tak van Michelle se Kombuis, lewer weekliks in Windhoek af, maar versprei ook oor die hele Namibië. “Michelle se Kombuis het ontstaan weens die droogtes op ons plase en die blote feit dat ons as boervrouens ons mans finansieel moes bystaan. Jy kan enige iemand vra en hulle sal sê dat dit skrikwekkend is om ’n nuwe onderneming te begin, maar ek glo die liefde wat ons elke dag ingesit het en die feit dat ons in daardie stadium nie ’n ander uitweg gehad het nie, het in minder as twee jaar na ons suksesverhaal gelei.”

Olivier het oorspronklik haar tweelingsuster Michelle Britz bygestaan met idees en resepte vir die Suid-Afrikaanse tak van Michelle se Kombuis.

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees in Richmond

Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees in Richmond

Hallo, Jaco! Dit is lekker om met jou te gesels. Die Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees het op 19–21 April 2024 plaasgevind. Vertel ons meer. Verlede jaar het ons 500 feesgangers gehad, wat dit die grootste byeenkoms van Suid-Afrikaners in die VSA gemaak het. My doel...

Om teen treine te skree: 11 nuwe dramas vir hoërskole

Om teen treine te skree: 11 nuwe dramas vir hoërskole

Deur Tanya Viviers Die bundel bevat elf nuutgeskrewe dramas met as sentrale tema tieners se smagting na aanvaarding en om as jong volwassenes in die samelewing hul eie identiteit te vind. Die tekste wys onder meer hoe tieners as helde en gewilde mense deur hul...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest