Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Swede

Nov 20, 2023

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Lize-Mari wat in Swede woon.

Hallo, Lize-Mari. Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om in Swede te gaan woon?

Ek en my man het albei in die bosveld grootgeword en nadat ons getroud is, het ons in Centurion gaan woon. Hy het al die jare vir ’n internasionale maatskappy gewerk en gereeld na Swede gereis vir werk. So het hy verlief geraak op die land. ’n Soeke na veiligheid en beter geleenthede het ons gedryf. Hy het aansoek gedoen, ’n pos in Swede gekry en ons het die geleentheid aangegryp. Ek het altyd as jong meisie gesê ek gaan nie vir ewig en altyd in Suid-Afrika woon nie, so dit was my “dream come true”.

Jy het genoem dat die eerste jaar in Swede uitdagend was. Het jy ’n oorlewingslysie met wenke vir mense wat dieselfde uitdagings ervaar?

Uitdagings is sekerlik heel bo aan die lysie van uit Suid-Afrika emigreer, en alhoewel ek nie ’n lang oorlewingslysie het nie, het ek een groot lewensles: “Steek jou trots in jou sak.” Dit mag dalk anders en makliker wees om na ’n ander land toe te trek waar hul Engels praat en verstaan en waar die kultuur nie wêrelde van mekaar verskil nie, maar as Swede die land is waarop jy en jou gesin besluit het, werk dinge ’n bietjie anders. As mense bereid is om te help, al is dit mense van ander lande of mede-Suid-Afrikaners, maak gebruik van daardie hulp al is hul vreemdelinge en al is dit hoe moeilik. Daar is vir ons gesê om Suid-Afrikaners te vermy, maar ek is vandag so dankbaar ek het nie geluister nie. Dis meestal die Suid-Afrikaners in Swede wat raad gegee het, wat geduldig vir ons verduidelik het hoe goed werk, wat ons met ope arms ingeneem het en vir ons net goed was. Ons is ook geseën met mense by die werk wat behulpsaam was, maar dis nie almal se realiteit nie. Ons het Swede toe getrek met basies niks, net ’n paar tassies en bokse met persoonlike items. Dit was ons keuse om vinnig ons eie plek te koop, wat met sy eie uitdagings kom. Ons het vir maande op opblaasmatrasse geslaap wat aan ons geleen is en ons het soggens op geleende piekniekstoele ontbyt geëet. Stadig maar seker het ons ’n nuwe lewe gebou. Dis die dinge wat mense wat al daardeur is nie sommer vir jou sal vertel nie, want baie daarvan is maar vernederend. ’n Mens kry skaam, maar as jy vasbyt, glo ek dat jy ook eendag jou storie sal kan deel en ander help.

Jy woon al vier jaar in Swede. Vertel ons hoe het jy die emigrasieproses ervaar. Was dit ʼn groot aanpassing? Was dit vir jou ’n kultuurskok en is die werkskultuur baie anders?

Ek mag dalk nou vreeslik dramaties klink, maar dit was soveel meer as net ’n skok en ’n groot aanpassing. Ek het ongelukkig nie deur die wittebroodsfase gegaan nie al wou ek baie graag emigreer. Dit het eerlikwaar vir my gevoel of ’n baie groot deel van my doodgegaan het; ek het in ’n nuwe wêreld as ’n nuwe mens opgestaan en moes alles van voor af leer doen sonder my ma se hand en leiding. Ek moes leer om anders met mense te praat, anders na mense te luister, anders te reageer, en die lys gaan aan en aan. Ek onthou nog hoe ek in die begin nie ’n venster kon oopmaak nie en sommer in trane uitgebars het. Ek het vreemdelinge op straat gegroet en vreemde kyke gekry. Toe ek uiteindelik by ’n maatskappy met skole reg oor die land begin werk, het ek amper elke sin begin met: “Hi, I’m from South Africa,” selfs as mense by konferensies eintlik net wou weet van watter skool in die land ek kom. Ek het gedink almal is vreemd, maar ek was sekerlik vir hulle nog baie meer “weird”. Vandag kyk ek terug en giggel lekker vir myself. Ek dink gereeld sjoe maar ek het ver gekom en baie geleer.

Vertel ons meer van jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het julle meer tyd om te ontspan en te reis?

Die lewe in Skandinawië is rustiger vir ’n groot groep mense, en daar is in die begin vir ons gesê dat alles stadiger en rustiger is, dat alles “lagom” (matig) moet wees. Dit beteken niks moet te veel of te min wees nie, basies maar soos Gouelokkies van haar pap hou. Afhangende van waar jy werk, is die lewe in Swede baie rustig. Vir my as juffrou by die skool is dit nie regtig die geval nie. Ek werk definitief baie harder en meer ure as in Suid-Afrika. Die enigste groot voordeel is die gereelde vakansies, maar dis werklik net om asem te haal en weer krag te kry tot die volgende vakansie. Op ’n tipiese dag sal ek omtrent 30 minute werk toe ry, tussen 08:10 en 08:30 met lesse begin en tot 16:00 of 16:30 werk voor ek dan weer die pad aanpak huis toe. Daar word ook van ons verwag om 10 uur per week van die huis af te werk, meestal om lesse te beplan en voor te berei, so jou werksweek eindig nie na 40 uur nie. Hier kan niemand sê ’n juffrou werk min en kry baie vakansie nie; ons moet die ure inhaal! Een groot verskil vir my persoonlik is dat ek voel my werk het betekenis en dit wat ek doen, maak saak. Ek voel ook ons skool is baie meer ingestel op leerders se holistiese welstand en nie net akademie nie. Om ’n goeie verhouding met leerders te bou, is van kardinale belang. Elke onderwyser is ook ’n mentor vir ’n groep studente. Ek is die leier van die graad 6-groep, so ek het nog meer verantwoordelikheid wat ook baie van my tyd neem. Natuurlik ervaar alle onderwysers in Swede nie alles eenders nie, en die onderwys het beslis sy uitdagings ook. Ek sien wel vreeslik uit na die somervakansie se om en by sewe weke van rus en voorbereiding vir die nuwe skooljaar!

Hoe verskil die skoolsisteem in Swede van dié in Suid-Afrika?

My kennis van presies hoe die skoolsisteme in Swede en Suid-Afrika verskil, is nie honderd persent akkuraat nie. Die grootste verskille waaraan ek aan kan dink, is dat die dae langer is, dat buitemuurs gewoonlik laat in die middag of saans en selfs naweke plaasvind, selfs op Sondae, en dat dit meestal ekstra kostes meebring, want dit word nie deur die skole aangebied nie. Die grade (in Swede noem ons dit jare) word ook ’n bietjie anders opgedeel. Jare F-9 (graad R tot graad 9) is verpligtend en kan saam in ’n skoolgebou wees, waar dit in Suid-Afrika aparte skole sal wees. In Swede het ons förskola (voorskool/kleuterskool), lågstadiet (laerskool – jaar 1 tot 3), mellanstadiet (middelskool – jaar 4 tot 6) en högstadiet (hoërskool – jaar 7 tot 9). Gymnasium (jaar 10 tot 12) is opsioneel. Die fokus is ook baie meer op speel as hul jonger is en daar word baie aanpassings gemaak vir studente met leerprobleme, baie meer as waaraan ek gewoond was.

Jy het genoem dat daar heelwat Suid-Afrikaners in Swede is en dat julle ongelooflik trots is op julle taal en kultuur. Wat beteken jou Afrikaanse wortels vir jou?

My man noem dit my nuutgevonde patriotisme: die kop omswaai van opgewondenheid as jy Afrikaans hoor in enige land wat nie Suid-Afrika is nie en om jouself dan sommer te gaan voorstel; die braaivleisvuurtjie in die sneeu met boerewors en braaibroodjies oor die kole; die gejuig saam met wildvreemdes in groen truie in die strate van Gamla Stan as die Bokke ’n drie druk; om by die werk Afrikaans te praat met mede-Suid-Afrikaners. Dis darem maar lekker!

Is daar enige Suid-Afrikaanse winkels, restaurante of ander ondernemings naby wat julle graag ondersteun?

Dankie tog vir Suid-Afrikaanse ondernemings in Swede! Ek het nog nie almal uitgetoets nie, maar ek bestel gereeld verskeie produkte by The Springbok Shelf en geniet Bush Candy se biltong. Die beste wenk wat ek kan gee, is om aan te sluit by die plaaslike Facebook-blad in die land. Dis waar ek baie inligting kry oor enigiets van Suid-Afrikaanse produkte tot waar ons kan gaan rugby kyk.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Ek dink ek sal ’n korter antwoord kan gee op die vraag wat mis ek nie van Suid-Afrika nie, want ek verlang na vier jaar steeds na baie meer dinge as wat ek in ’n e-pos kan noem. Ek mis die warm Afrika-son en die rooi grond onder my voete op die plaaspad. Ek mis die lekker groot cappuccino’s by Mugg & Bean en pakkies Chuckles by Woolworths. Ek mis die vriendelike glimlag van ’n petroljoggie en dat ek net sommer met enige iemand kan gesels agter die toonbank oor hoe dit met hul gaan. Ek mis die reuk van reën in die Bosveld, die Groot Vyf en KwaZulu-Natal se strande. Ek mis Afrikaanse kerk. Ek mis my ma en pa se drukkies. En dan mis ek fisies ook goed, soos my beste vriend se troue, verjaarsdagpartytjies van my vriendinne se kinders en my niggie se matriekafskeid. Ek besef ek sal altyd met ’n leemte rondloop, maak nie saak hoe gelukkig ek nou is nie.

Watter interessanthede waarvan jy nie vantevore geweet het nie het jy ontdek oor die land waar jy woon?

Om in Swede te woon en werk, het my verskriklik baie geleer en ek leer eintlik maar nog elke dag iets nuuts. Swede het ’n groot invloed gehad op Suid-Afrika waarvan baie mense nie bewus is nie, soos dat ’n Sweedse man genaamd Anders Ohlsson ’n groot rol gespeel het in die brouersbedryf in Suid-Afrika. Babas word in die winter in hul stootwaentjies op die stoepe gelos om te slaap, blykbaar oor daar geglo word hul slaap beter en word minder deur verkoues en ander siektes geaffekteer. Die noorderligte kan tot in Stockholm gesien word en dis iets wat skielik voorkom en binne ’n paar minute weer kan verdwyn. Ek was ook verras oor hoe min mense hier rook, net om uit te vind hul “snus” (pruim – kou tabak). Ek kan nog baie interessanthede opnoem, maar dis definitief beter om dit self te kom beleef!

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Ek hoor gereeld van mense wat dit werklik moeilik vind om in Swede aan te pas. Doen jouself asseblief ’n guns en reik uit. Baie van ons is bereid om te help en te luister of net op ’n manier ondersteuning te probeer bied. Ja, dit gaan dalk nie ontaard in ’n vriendskap nie, en jy gaan mense ontmoet wat jou nie heeltemal aanstaan nie, maar dis dalk mense wat jy in jou lewe moet hê vir daardie spesifieke seisoen. Ek is altyd gewillig om nuwe mense te ontmoet, of selfs net vrae te beantwoord as mense Swede toe skuif. Hoe meer opsies jy het, hoe meer kan jy by verskillende mense leer en hoe beter kan jy besluit wat vir jou werk. Mense kan my gerus op Instagram kontak by @halwe_wereld_weg


LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit Engeland

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest