Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Luzanne Fletcher wat in Scarborough woon.

  1. Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?

Ek is gebore in Johannesburg en het in Krugersdorp aan die Wes-Rand grootgeword. Ná ek my studies aan die Noordwes Universiteit voltooi het, het ek vir ’n jaar as ’n fotograaf op P&O Cruises Australia se plesierbote (cruise ships) in Australië gaan werk. Dit was my eerste ervaring van in die buiteland bly en ek het dit verskriklik geniet. Buiten Australië het ek ook die geleentheid gehad om onder meer Nieu-Seeland, Fidji, Tonga en Singapoer te besoek. Dit is ook op een van hierdie plesierbote wat ek ’n aantreklike Engelsman ontmoet het.

Ná my tyd op die skepe het ek na Suid-Afrika teruggekeer en in die mediabedryf begin werk. Ná ’n langafstandverhouding van twee jaar met my Engelsman het ons in Suid-Afrika afgehaak en is ek vanaf Desember 2017 voltyds in Scarborough – ’n klein dorpie aan die noordoostelike kus van Engeland – gevestig.

  1. Was dit ’n groot aanpassing?

Ja en nee. Die feit dat ek op 23 stoksielalleen Australië toe is, het my klaar baie geleer van selfstandig wees en het my definitief op die groot trek Engeland toe voorberei. Dit is baie swaar om familie agter te laat, maar gelukkig het ek geweet my man staan aan die ander kant op Heathrow en wag.

  1. Vertel ons meer oor jou gesin?

My huisgesin bestaan uit my en my Engelsman William. Ons woon in ’n woonstel wat vyf minute se stap van die see af is. Ons albei werk in Scarborough: hy as ’n menslikehulpbronbestuurder en ek in bemarking en ontwerp. Oor naweke geniet ons die Engelse platteland en spandeer baie tyd in of op die see.

  1. Praat julle nog Afrikaans?

Beslis. In die laaste twee jaar het Will só baie Afrikaans geleer. My ma het vir hom ’n tweetalige kinderwoordeboek (Afrikaans-Engels) gekoop en hy praat beter Afrikaans as meeste Engelse Suid-Afrikaners. Hy is ook baie lief vir Afrikaanse musiek; veral Bok van Blerk en Snotkop, aangesien dit maklik is om te verstaan en baie algemene Afrikaanse woorde bevat.

  1. Hoe gereeld sien julle familie mekaar?

My ouers en suster het onlangs ook na Engeland verhuis, maar bly steeds vyf ure se ry van ons af. Ons probeer een keer per maand by mekaar uitkom. Ons probeer ander familie, soos oumas en oupas, ten minste een keer per jaar sien. Óf hulle kom kuier hier, óf ons gaan kuier in Suid-Afrika.

  1. Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Engeland. Kom julle soms bymekaar?

Ek het nog nie een ander Suid-Afrikaner in Scarborough raakgeloop nie. Daar is wel ’n gesin in ’n dorp ’n uur se ry van ons af wat biltong verkoop, so ons is gereeld met hulle in kontak.

  1. Vreemdste om aan gewoond te raak?

Engelse eetgewoontes. Die mense ken nie van sout, peper, gebraaide uie of knoffel nie, wat die basis van my familie se resepte is. Die ander ding wat my vang is die donker. In die winter is dit teen 16:00 pikdonker, maar dan is dit eers tyd vir winkel toe stap en strand toe hardloop. Oor Kersfees doen mense tot middernag inkopies en dit is heel normaal om in die vroeë oggendure mense met hul honde te sien stap. In Suid-Afrika het ek altyd probeer om nie in die aand te veel te ry nie en het definitief nie in die donker rondgeloop nie. Hier is dit heel anders.

  1. Jy het ook jou eie reisblog. Vertel ons meer?

My grootste passies in die lewe is reis, stories vertel en fotografie. My blog laat my toe om dit als bymekaar te meng. Ek skryf graag oor die interessante plekke wat ek besoek, deel resensies oor toprestaurante en gee wenke oor wat om waar te doen. Ek probeer altyd goeie foto’s saam met die feite publiseer en ek hoop dat dit wat ek ervaar en neerpen iemand anders kan inspireer om ook ’n plek te besoek of dit ten minste deur my oë te geniet.

  1. Waarvan hou julle die meeste van jul lewe daar?

Dit klink soos ’n cliché, maar die veiligheid. Ek kan in die pikgietnagdonker gaan stap en ek kyk nie heeltyd oor my skouer nie. In die somer los ons heeldag al ons vensters oop en niks verdwyn nie. Ons werkskootrekenaars bly oor die naweek in kar, want niemand met lang vingers gaan dit probeer neem nie. Ja, ek weet hier is ook misdaad – maak nie saak waar jy in die wêreld gaan nie, as jy moeilikheid soek sal jy dit kry – maar hier op die Engelse platteland is dit anders. Ek hoef nie in my eie huis bang te wees nie.

Die ander ding is al die reisgeleenthede. Ons kan vir ’n dag Skotland toe ry of op die trein spring en Parys toe gaan vir die naweek en die hele Europa is ’n kort, goedkoop vlug weg.

  1. Hoe vergelyk die lewenskoste met dié in Suid-Afrika?

Biltong is duur. En huise ook. Maar buiten dit voel ek nie veel van ’n verskil nie. My maandelikse uitgawes is meer as in Suid-Afrika, maar my inkomste is ook. So dit voel maar dieselfde.

  1. Wat is die een ding wat niemand jou vertel het van emigrasie nie?

Hoe verskiklik moeilik die visum-papierwerk is, hoe duur dit is en hoe verskriklik versteurend die hele proses is. Nadat ek en William getroud is en ons witterbrood geniet het, is hy terug Engeland toe en ek moes in Suid-Afrika agterbly om vir my visum aansoek te doen. Om net al die papierwerk bymekaar te kry was ’n nagmerrie en aangesien ons nie van ’n agentskap gebruik gemaak het nie, was dit ’n baie stresvolle ding. Die proses het in totaal amper R50 000 gekos en ek moes meer as drie maande vir ’n antwoord op my aansoek wag. Ek het dit gelukkig die eerste keer gekry, maar ek weet van baie mense wat twee of drie keer moes probeer.

Besoek gerus Luzanne se blog hier: http://luzannefletcher.com/.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest