Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Vancouver, Kanada

Aug 30, 2023

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Cathy Kotzé wat in Nanaimo op Vancouver Eiland, Kanada woon.

Hallo, Cathy. Van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in Kanada te gaan woon?

Ons het oral in Suid-Afrika gewoon. Die Vaaldriehoek, Pretoria, die Karoo. Op die ou end het ons in die idilliese Sedgefield afgetree.

Ons kinders het ’n paar jaar vantevore na Kanada en die VSA verhuis en ons dogter het besluit om ons te borg. Ons is in Kanada toegelaat as gewone “Permanent Residents” met al die voordele, maar ons dogter moes onderneem om vir tien jaar lank in ons behoeftes te voorsien. Dis nie ’n probleem vir die meeste Suid-Afrikaanse ouers wat gewoonlik finansieel onafhanklik is nie.

Vertel ons meer van jou gesin.

Ons dogter is ’n mediese dokter. Sy het ’n bevalling behartig waar die baba beskikbaar was vir aanneming. Dit was liefde met die eerste oogopslag en toe die biologiese ma vra of sy bereid is om die baba aan te neem, het sy dadelik ingestem.

Die aannemingsprosedure is voltooi op die dag wat ons in Kanada geland het. Ons was dadelik ’n kitsoupa en -ouma. Ons dogter se gesin het oornag gegroei van ’n alleenloper tot ’n huishouding van vier.

Om in ’n nuwe land aan te pas, kan uitdagend wees. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in Kanada?

Natuurlik die weer. Ons het na die koudste winter in Suid-Afrika in een van die natste en koudste winters in Kanada beland. ’n Jaarlange winter is nie vir sissies nie.

Ons het ons lewe in Suid-Afrika, ons jare lange vriende en die familie met ’n passie gemis. Ek wou die eerste paar maande aanmekaar terugtrek. Gelukkig het die kleinding ons besig gehou. Ons het haar versorg terwyl ons dogter feitlik heeldag aan diens was as een van net drie dokters in die dorp.

Wat is vir jou die interessantste van Kanada?

Die inherente vriendelikheid en hoflikheid van Kanadese. Die “honour system” is ’n gegewe. Jy weet jy gaan heel waarskynlik jou beursie en selfoon terugkry as jy dit verloor het.

Hulle kan egter steeds nie altyd my Suid-Afrikaanse aksent verstaan nie.

Ek verstaan nie hulle verknogtheid aan koffie en waarom hulle altoos oral met ’n beker koffie in die hand rondloop nie.

Dis blykbaar vir hulle alledaags om al hul maaltye van restaurante te kry – ontbyt van een van Tim Hortons of McDonald’s se deurryrestaurante, middagete van ’n kitskosplek, en aandete in ’n restaurant of tuis afgelewer.

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Kanada. Kom julle soms bymekaar?

Aanmekaar. Die meeste van ons vriende is Suid-Afrikaners. Ons braai saam en maak biltong, boerewors, beskuit en koeksisters. So af en toe geniet ek en my vriendinne ’n deftige oggendtee.

Hoe het jy die emigrasieproses na Kanada ervaar?

Dis altyd moeilik. Daar is soveel rompslomp: mediese goedkeuring, misdaadagtergrond, erkenning van kwalifikasies, taalkennis, finansies …

Ons was gelukkig. Omdat ons dogter ons geborg het, is die hele proses in minder as ses maande afgehandel. Deesdae kan dit jare neem.

Wat is jou gunstelingherinnering aan Suid-Afrika?

Daar is so baie. Geure en kleure. Dis die land met die beste klimaat in die hele wêreld.

Die geroep van die vleiloerie en die visarend. Skilpaaie in ons tuin. Kuier saam met geliefdes.

Het jy enige raad vir iemand wat wil emigreer?

Dis traumaties. Daar is opofferings. Maak ’n lys van die voor- en nadele vir jou gesin.

Skakel in by die gemeenskap deur middel van die kerk, kinders se skool, sportinstansies en vrywillige werk.

Jou gunstelingsportsoorte gaan heel waarskynlik onbekend wees.

Jy gaan gou uitvind dat kaalvoet loop in die openbaar nie ’n opsie is nie en dat jy altyd jou skoene moet uittrek as iemand jou innooi.

Wees voorbereid op die hartseer. Dit verdwyn wel mettertyd.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Ons is nou 22 jaar in Kanada en weet dis die beste besluit wat ons ooit geneem het. Die voordele is veel meer as die nadele.

Ons woon in een van die mooiste plekke op aarde. Hier is vyf mere binne-in ons dorp en talle strande rondom ons. Hier kom wei bokke in ons tuin.

Ons familiebande is heg. Vir ons kinders is ons veiligheid belangrik. Hulle sou altyd bekommerd gewees het as ons steeds in Suid-Afrika was. Nou woon ons by ons dogter maar in ons eie wooneenheid en ons is die trotse oupa en ouma van die pragtigste Indiese kleinkind in die hele wêreld.

Ek deel graag ons emigrasie-ondervinding, veral omdat ek besef hoe traumaties dit is. Dis bitter moeilik om van voor af te begin. Ek en my man was baie gelukkig, want ons dogter kon ons deur die moeilikste tye help.

Ek is so pas die tweede keer in twee jaar met borskanker gediagnoseer en herstel tans na ’n onlangse mastektomie. Ek weet nie hoe ek sonder my gesin se ondersteuning sou oorleef nie. Dit sou nag gewees het as ek en my man steeds in Suid-Afrika was.

Gedagtig aan jou diagnose, hoe sal jy sê verskil Kanada se gesondheidsorg van dié in Suid-Afrika?

Kanada het geen private mediese sorg nie. Alle mediese dienste word deur die staat verskaf en alle mediese personeel is in diens van die staat.

Lees hier meer

Ongelukkig is die mediese stelsel heeltemal oorweldig. Daar is ’n geweldige tekort aan dokters en lang wagtye vir operasies. Hier is tans sowat 20 000 mediese dokters en 33 000 verpleegsters met oorsese kwalifikasies wat nie mag praktiseer nie; hulle moet eers deur die Licentiate of the Medical Council of Canada (LMCC) goedgekeur word. Dit beteken dikwels verdere studies en die herhaling van hulle finale jaar se eksamens.

Ek sal aanbeveel dat Suid-Afrikaanse dokters twee keer dink voordat hulle in die huidige klimaat Kanada toe emigreer.

Lees hier meer

Wat myself betref: My sjirurgie en behandeling was heeltemal gratis en puik. Empatie en puik versorging deur verpleegpersoneel is ’n gegewe. My operasie was geskeduleer vir 12:00 en ek was teen 16:30 weer tuis. Verpleegpersoneel het my gereeld tuis besoek en die sjirurg was in telefoniese kontak.

Die Canadian Cancer Society is puik. Hulle reël en fasiliteer alle verdere behandeling. ’n Onkoloog word aangewys en is in beheer van bestraling en chemoterapie. Elke pasiënt het direkte toegang tot ’n verpleegster.

Was daar enige spesifieke blogs, organisasies, webwerwe, tydskrifartikels of mense wat veral behulpsaam was met ondersteuning en/of inligting?

Ondersteuningsgroepe raak betrokke en is 24 uur per dag beskikbaar vir fisiese en geestelike ondersteuning.

Lees hier meer

LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Foto: stephen-h-unsplash

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest