Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Al Ain

Jan 30, 2023

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Riëtte Schoeman, ’n onderwyser in Al Ain wat Februarie verhuis na Abu Dhabi.

Van waar in Suid-Afrika is julle?

Ons is van Klerksdorp, Noordwes.

Vertel ons meer van jou gesin.

Ek en my man het twee pragtige kinders, Francois (11) en Anriette (7). Hy was voorheen getroud en het twee ouer kinders uit daardie huwelik ook, Sonja (23) en Christo (19). Ons woon tans in dieselfde stad as hulle, wat wonderlik is. Die vier kinders is baie geheg aan mekaar en ons is dankbaar dat hulle saam kan grootword.


Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland? Enige lesse wat julle geleer het?

Kulturele verskille is moeilik aan die begin. Om te verstaan hoe ander mense dink en dinge doen en jou eie denkwyse daarby aan te pas is moeilik. Ek moes leer om baie rustiger te wees en meer geduld te hê. Dit is ook baie moeilik om aan die begin te funksioneer waar mense nie Engels behoorlik verstaan of kan praat nie.

Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?

Die lewensgehalte is baie beter hier. Dit is veilig. Ons kinders kan speel terwyl ons kuier en ons hoef nie heeltyd dop te hou of iemand hulle gryp nie. Ek hoef nie my handsak vas te klou as ek dorp toe gaan nie. Dit alleen maak dit absoluut wonderlik! Die lewenskoste is baie hoër as in SA, maar gelukkig is die salarisse ook beter. Baie mense glo jy is ’n miljoenêr sodra jy hier werk, maar hul neem nie die hoë lewenskoste in ag nie. Skoolgeld is ongelooflik duur! ’n Mens moet nog steeds kyk na jou uitgawes en begroot, maar oor die algemeen kom ’n mens verder hier met jou salaris as in SA.

Wat beteken jou Afrikaanse wortels vir jou?

Volksliedjies en om my kinders te leer van die geskiedenis van Suid-Afrika. Ons probeer om hulle so ver moontlik Afrikaans groot te maak, maar ons jongste praat amper glad nie meer Afrikaans nie. Familie is belangrik en ons probeer ook baie hard om daardie bande sterk te hou. My kinders moet weet waar hulle vandaan kom.

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in VAE. Kom julle soms bymekaar?

Net by my werksplek is ons tans 14 Suid-Afrikaners! Ons het ’n lekker rugbyklub in Al Ain waar jy vir seker elke keer nog meer Suid-Afrikaners ontmoet. Ons is mekaar se familie hier ver.

Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk en hoe die werkskultuur verskil van dié van Suid-Afrika.

Ek is ’n onderwyseres. Dit is my ervaring dat ons Suid-Afrikaners baie harder werk oor die algemeen. Ons is gewoond daaraan om alles te doen. Soms doen ons te veel en oortree die grense van die persoon wat eintlik die werk moet doen, net om dit gedoen te kry. Weereens – ek moes gou geduld aanleer. Die grootste meerderheid mense by my skool is van die buiteland. Almal is ver van hul mense af en werk maar net vir ’n beter toekoms.

Hoe verskil die skoolsisteem van dié in Suid-Afrika? Het jy enige raad vir mense wat in die buiteland wil skoolgee?

Dit hang af waarna jy op soek is. Hier is ’n legio keuses. Hier is Britse, Amerikaanse, IB en nog vele ander kurrikulum skole. Die meeste skole is KG–gr.12. Dit is ’n ongelooflike ervaring om in so ’n multikulturele omgewing te werk. Ek sal dit vir enige persoon aanbeveel. Die papierwerk is nogal duur en neem lank, so begin lank voor die tyd daarmee as jy die skuif beplan.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Hoe gereeld sien julle familie mekaar?

Die natuur, huise met groot grasperke en tuine, Spur… Ons sien ons familie elke somervakansie (Julie/Augustus) as ons Suid-Afrika toe gaan, maar probeer om my ouers ook oor Desembers te laat kom kuier sodat die kleinkinders nie vergaan van verlange nie.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Dit is wonderlik om ’n mens se horisonne te verbreed. Ek was nog nie ’n dag spyt oor ons besluit nie, maar dit is nie maklik nie. Die skuif is moeilik en die aanpassing gebeur nie oornag nie. Dit is duur en kos baie geld aan die begin. Dit vat deursettingsvermoë om hier te bly en nie ná ’n paar maande “huis” toe te gaan nie … Maar vir dié wat deurdruk … Dit is die moeite werd. Jy maak gou weer vriende wat soos familie word. Jy kom weer op die been en leef weer! Hier is soveel wonderlike geleenthede en ons kinders word groot met ’n vryheid wat ons nooit vir hulle sou kon gee in Suid-Afrika nie. Ek is dankbaar …

LEES OOK: ’n e-pos uit Australië

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook ’n Uit en tuis-rubriek vir ons skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest