Leesvordering:

Uit en Tuis: ’n E-pos uit Sydney

Apr 4, 2022

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Schalk Bruwer wat tans in Sydney, Australië woon. Hy vertel hoe hy sy taal, kultuur en erfenis nou meer waardeer vandat hy in die buiteland woon.

Hallo Schalk, dankie vir al die uitsigfoto’s wat jy met ons deel van jou ervaring in die buiteland. Vertel ons bietjie waar woon jy en hoekom juis daar?

Ek en my verloofde (nou my vrou, sedert Desember 2018) het in 2017 beplan om oorsee te werk vir so jaar of twee om ervaring op te doen om ons ’n beter kans te gee met werksgeleenthede wanneer ons terugkeer na Suid-Afrika. Ons het groot stede oorweeg vir soveel blootstelling moontlik. Einde Desember 2017 het ons toe Sydney toe gekom nadat ons albei poste hier gekry het. Vir my was dit makliker aangesien ek deur ’n ouditfirma hierheen geskuif het. Maar ons het beide net voelers uitgesteek en aanlyn onderhoude gehad en soveel moontlik probeer oplees oor hoe die dinge werk.

Ons het Sydney gekies omdat ons albei hier werk gekry het, met ander lande wat ons oorweeg het kon net een van ons ’n werk finaliseer. Terwyl ons vir ander lande gewag het, het ons Sydney ’n kans gegee.

Ons woon tans in ’n voorstad genaamd Dee Why, dit neem my so 40 minute stad toe met die bus, en ek stap 1 km busstop toe. Dis maar die opoffering wat ons gemaak het om naby ’n bekostigbare strand te woon. Ons is so twee minute se stap strand toe wat regtig lekker is, alhoewel ons nie ’n uitsig het vanaf die woonstel wat ons huur nie.

Ons is dus nou al net oor die vier jaar in Sydney waarvan ek al drie keer huis toe was, en my vrou vyf keer.

Hoe het jy die emigrasieproses na Australië ervaar?

Die proses het my aanvanklik so ses maande gevat van die eerste onderhoud tot die dag wat ons in Australië aangekom het. Daar is baie vereistes insluitend Engels-toetse wat geslaag moet word. Maar daar is altyd ’n reeks van visums wat mens kan kry om in Australië in te kom, en hulle vereistes verskil. As jy bv. ’n onderwyser/es wil wees in Australië moet jy die moeilike Engels-toets skryf en redelike hoë punte verwerf.

Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees, wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland?

Inderdaad. Die eerste drie tot ses maande was vir ons nog opwindend omdat als nuut was, ons het byvoorbeeld elke dag trein of bus gery wat ons nooit vantevore gedoen het nie, onder andere. Maar ná so ’n paar maande het ons begin verlang na ons mense en kultuur. Die groot ding vir ons is die tydsone en die feit dat mense nie hier so baie tyd bestee aan nuus en politiek soos by die huis nie, dit was vir my opvallend dat mense baie tyd buite deurbring. Dit was vir ons vreemd maar lekker om saans rond te stap en nooit te bekommer oor jou foon of beursie nie.

Ons het verder eers ’n kar gekoop ná 16 maande (’n tien jaar oue Polo), dit was ’n groot verandering en bitter lekker om die vryheid te hê, voor dit was ons vakansies beperk tot vlieg en busroetes. Ons het wel een of twee keer ’n kar gehuur ook. Verder is dit vreemd hoe die wetstoepassing werk hier. As jy bv. ’n minuut te lank parkeer waar jy nie mag nie, en jy word gevang, kry jy ’n boete. Dieselfde geld vir spoed of jaywalking! Ek het al vier parkeerboetes gekry hier. Ek het nooit geweet die tydslimiete word toegepas nie! Soos ek grootgeword het parkeer jy waar jy ’n gaping sien en dit is dit!

Is daar enige eg Suid-Afrikaanse winkels naby jou wat jy besoek vir trooskos, soos biltong?

Hier is heelwat en ek maak ’n punt daarvan om twee tot drie keer ’n maand daar te draai. Binne ’n uur se ry is daar ongeveer tien Suid-Afrikaanse winkels waarvan daar seker net twee is wat ek nog nie besoek het nie. Dit is vir my altyd ’n lekker uitstappie om biltong en ander dinge te koop en verskillende produkte en resepte uit te toets, insluitend ’n wyntjie, brandewyntjie of ’n bier so nou en dan.

My naaste winkel is tans African Vibe (@africanvibesydney).

My vorige naaste winkel was Springbok Delights.

Dan is daar ook die Checkers Hyper-ekwivalent van SA-winkels, genaamd Biltong and Boerewors. Hulle winkel is maklik drie tot vier keer die grootte van die ander winkels en hulle maak “bunny chows”, vetkoek ens. Hulle speel ook boeremusiek en lekker Afrikaanse musiek as jy instap. Hulle verkoop van CD’s tot speserye tot lekkers en hulle reeks wyn, hardehout en bier sal Tops laat skaam voel. Oor naweke braai hulle ook boereworsrolle buite, lekker! Dit beteken so baie vir my om dit te sien. Daarom ondersteun ek die winkels altyd, buiten vir die feit dat hulle produkte vir my so lekker is!

Vertel ons bietjie watter werk doen jy en hoe verloop ’n tipiese dag?

Ek het in Suid-Afrika gestudeer om ’n geoktroieerde rekenmeester te word en het vir drie jaar by PwC in Pretoria gewerk, alhoewel my familie in die Kaap woon. Dit was gedeeltelik om my geleenthede vir oorsee gaan te verbreed.

Ek het ongeveer ses maande gelede by PwC Sydney bedank en werk tans vir ’n groot konstruksiemaatskappy in die finansiële afdeling. Die werksure is heelwat beter – dit is nou so 40 ure ’n week, af van 70 ure ’n week in my vorige pos. So ja, ek het nou heelwat meer familietyd wat baie lekker is, alhoewel ek die afgelope drie en ’n half jaar minder familietyd gehad het as in SA. Ek sal sê dit hang maar van jou soort werk en jou werkgewer af, maar uit my oogpunt werk mense hier hard – harder as in SA. Ek betaal ook so ongeveer 3–5% minder belasting hier, maar ’n mens kan nie regtig vergelyk deur net wisselkoerse om te skakel nie.

Sedert Covid kan ek van die huis af werk. So ek het twee opsies, as ek van die huis af werk staan ek 07:00 op, stap see toe, stap om die blok, koop ’n koffie (A$4,50) waarna ek voor my lessenaar sit en begin om e-posse te lees. Daar is dan natuurlik heelwat e-posse en oproepe voordat ek tussen 17:30 en 18:00 my skootrekenaar toeslaan.

Die meeste werke in Sydney begin om 09:00 die oggend.

As ek kantoor toe gaan (2/3 keer ’n week) staan ek 06:30 op en stap so 07:30 busstop toe, wat 15 minute (1 km) kan neem. Ek vang dan die bus wat my so A$4 kos. Ek sal 08:45 op die laatste by die werk aankom ná ek nog so vyf minute gestap het van die naaste busstop tot by my kantoor.

Ek verkoop ook foto’s deur hommeltuigfoto’s op doek (“canvas”) te druk. Kyk gerus na my Instagram-profiel en Facebook-blad: @aerialssydney.

Hoe het jy ingeskakel en vriende gemaak in die proses?

Die eerste drie tot ses maande was vir ons nog opwindend omdat alles nuut was, maar ná so ’n paar maande het ons begin verlang na ons mense en kultuur. Ons het begin uitreik op Facebook en gehoor van ’n jaarlikse braai in Sydney waar daar ongeveer 150+ Suid-Afrikaners bymekaarkom en saam braai. Ons het daar ’n hele paar vriende ontmoet – onder andere iemand wat saam met my op skool was, alhoewel ons mekaar nooit op skool geken het nie.

Verder moet ’n mens maar hard werk om vriende te maak, jy moet jouself daarstel en gewillig wees om uit jou pad te gaan.

Ons vind dat ’n mens gewoonlik makliker vriende maak met mense wat ook nog nie so lank hier woon nie. ’n Mens het gewoonlik soortgelyke belangstellings en dieselfde manier van dink.

Hoe vergelyk die verblyfopsies in Sydney met die van Suid-Afrika?

Dit verskil baie. Ons woon naby bus- en treinroetes sodat ons by ons werke kan uitkom. Ek kan bv. nie werk toe ry nie want daar is nie parkering nie, net 2% van die werknemers het parkering en dit is gewoonlik die topbestuur. Boonop betaal hulle moontlik daarvoor. As ek self moet betaal vir parkering in die stad, sal dit my daagliks meer as A$50 (of R500) kos, wat net te duur is. Die bus kos my so R80 retoer elke dag en neem my ongeveer ’n uur van deur tot deur. Ons bly in woonstelle – ons verblyf het al gewissel van ’n plek met een slaapkamer sonder parkering tot twee slaapkamers met parkering. Die ekstra spasie is hemels, maar ons wil nog verder uit die stad bly sodat ons nog meer spasie en ons eie erf kan hê vir dieselfde prys elke maand. Huur word snaaks genoeg hier in koste per week gekwoteer, alhoewel ses maande die kortste kontrak was wat ons kon sluit om iemand se plek te huur. Ons het wel ’n vereiste, en dit is dat ons ’n balkon moet hê waar ek my Weber kan inspan op naweke.

Is dit duur om in Sydney te woon?

Dit is duur, maar huur en drank is vir my die duurste in vergelyking met Suid Afrika. ’n Gewone kas bier kos A$50 en ’n pakkie sigarette so A$30. Dis maar rof, die “sin taxes” is baie hoog hier. Ons huur kos so drie keer meer as wat ons in SA betaal het en ons salarisse is beslis nie drie maal meer as wat dit in SA was nie. Petrol kos tans A$2,4 per liter, maar die padsversekeringsfonds word nie by die petrolprys ingereken nie. ’n Mens betaal jaarliks ’n enkele bedrag van so A$400 tot A$1 000 afhangende van hoe duur jou voertuig is, terwyl dit in SA by die petrolprys ingereken word.

Verder is dit bekostigbaar omdat die pryse van groentes en sekere rou vleise soos hoender gereeld vergelykbaar is met SA. Oor die algemeen is dinge maar duur, veral as daar arbeid betrokke is, want die minimum loon is vrek hoog. Om byvoorbeeld my hare te sny kos A$35 en jy sal nie sommer goedkoper kry nie tensy jou vrou dit doen! Dieselfde geld vir dinge soos kardienste of bv. om uit te eet, aangesien dit tydsvernuf van ’n sjef en kelners verg. Biltong kos so rondom A$60 per kilo, so baie mense maak hul eie biltong – ek doen dit ook nou en dan.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Familie en vriende!! Die tydsverskil is ook een van die groot dinge wat die kommunikasie moeilik maak. Sydney is vir ses maande van die jaar agt ure voor SA en die ander ses maande nege ure voor SA, dit beteken dat ek meestal net in die middae tussen 16:00 en 22:00 met mense in SA kan gesels. ’n Gedeelte van daardie tyd werk ek, of wil ek tyd saam met my vrou deurbring of draf/oefen, so die geselsvenster is redelik klein tensy jy opofferings maak.

Ek byt maar vas deur baie Afrikaanse musiek te luister, veral in die kar, kliphard! Ek braai ook gereeld, amper elke naweek met kole of hout as ek dit in die hande kan kry en as my bure nie te veel kla oor die rook nie. Ek geniet graag ook ’n brandewyn om my te herinner aan die goeie tye in SA.

Ek waardeer my erfenis en kultuur heelwat meer in Australië. Ek lees baie op oor geskiedenis en die oorsprong van ons kultuur. Ek is trots Afrikaans, en sal altyd wees!

Wie weet, miskien trek ons ook weer oor ’n paar jaar terug SA toe, aangesien ons in Desember daar was en dit ongelooflik lekker was by familie en vriende, en natuurlik in die pragtige land van ons!

LEES OOK: Uit en Tuis: ’n E-pos uit Brunei

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Om teen treine te skree: 11 nuwe dramas vir hoërskole

Om teen treine te skree: 11 nuwe dramas vir hoërskole

Deur Tanya Viviers Die bundel bevat elf nuutgeskrewe dramas met as sentrale tema tieners se smagting na aanvaarding en om as jong volwassenes in die samelewing hul eie identiteit te vind. Die tekste wys onder meer hoe tieners as helde en gewilde mense deur hul...

Platsak maak ‘n plan

Platsak maak ‘n plan

Deur Anneke Langner Die veertienjarige Ethan droom daarvan om eendag ʼn rugbyster te word. Hy is baie geheg aan Leo, 'n Jack Russell-hondjie wat hy by die DBV aangeneem het. Op ʼn dag kondig Ethan se pa aan dat hulle gesin Nieu-Seeland toe emigreer en dat hulle nie kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest