Leesvordering:

Vadersdag – AfriForum Sakenetwerk deel planne om die manne te vier!

Jun 3, 2022

Dit is die laatnagte op kantoor, die skelm bederfies van die winkel af, die stywe drukkies wanneer ons seer het, dit is ’n skroef in ’n stukkende ding, dit is breë skouers wat meer as ons kinderlyfies dra – dit is PA!

Vaders is die hoekstene van ons gesinne, daarom is dit vir ons soveel pret om elke jaar op Vadersdag vir hulle te wys HOE belangrik hulle vir ons is.

Wanneer is Vadersdag 2022? Vadersdag word hierdie jaar op Sondag 19 Junie gevier! Het jy al enige planne in plek?

Doen hierdie jaar iets buitengewoon vir jou pa om seker te maak dat hy weet dat al die klein dingetjies wat hy daagliks doen, nie ongesiens verbysluip nie.

Ons het geskenkidees, aktiwiteite en tuisgemaakte planne opgestel vir jou vir Vadersdag. Kies een uit elke afdeling, klits hulle bymekaar en jy het ’n wenresep vir die Vadersdag van die eeu!

Vadersdaggeskenke – koop hier!

Die sportman

Is jou pappa ’n man wat hou van fisiese aktiwiteite? Dis gewoonlik hulle wat kla oor die trouring wat pla.

Freeform Rings het liggewigsilikonringe wat enige sportsoort sal oorleef en dit is glad nie te duur nie! Jy kan kies uit allerhande ontwerpe en kleure om te sorg dat jou pa iets dra wat sy unieke styl komplementeer. Hulle haal ook die kopseer uit ringgroottes uit, want op hulle webtuiste is ’n gids wat jou kan help om seker te maak dat die ring soos ’n handskoen pas.

Dis die perfekte geskenk vir pappas wat heeltyd besig is met hulle hande, maar ’n ring wat aan alles vashaak, verpes.

Loer hier.

Die avonturier

As visvang, jag of stap sy gunstelingaktiwiteit is, MOET jy by Safari & Outdoor ’n draai maak. Pappas kan nooit genoeg kepse of jagbykomstighede hê nie. Vadersdag kondig in elk geval die begin van die jagseisoen aan. Maak seker jou pa is reg vir die veld!

Loer hier vir idees en as die idees min raak, skaf ’n lekker geskenkbewys aan.

Die denker

Pappas moet altyd planne maak, dus hou hulle daarvan om op hoogte te bly van al die nuutste neigings en navorsing – daar is deesdae allerhande goue wenke om jou werk en leefstyl in balans te bring.

Koop vir hom ’n boek wat sy horisonne sal verbreed en maak seker julle gee hom so nou en dan ’n oomblik van stilte om sy geskenk te geniet!

Loer hier vir oulike boeke.

Die sentimentele pappa

As jou pa hou van snaakse sêdinge of kleurvolle kouse, kan Blikit eintlik vir jou al die werk doen! Hulle kombineer jou pa se gunstelinggoedjies in ’n oulike blikkie wat definitief sy verwagtinge sal oortref.

Maak seker jy bestel betyds!

Loer hier.

Die karnivoor

Kyk, as jy regtig nie meer weet wat om te koop vir Vadersdag nie, sal biltong of biltongspeserye steeds koning kraai.

Gunstelingslaghuise in en om Pretoria, vind hier die een naaste aan jou:

Vadersdagidees – Aktiwiteite saam met Pappa

Vir die sportman

Daar is deesdae soveel om te doen vir die manne wat daarvan hou om die hartklop bietjie op te jaag (dis nou nie mamma se hartklop nie, sommer hulle eie). Met lekker buitelugparke soos Wolwespruit en The Big Red Barn in Pretoria, behoort julle geen verskoning te hê om net heeldag rond te lê nie!

Ry saam met pappa fiets of draf ’n rondte en sluit dit af met ’n lekker koppie koffie of ontbyt. Slaan al die vlieë met een klap: Oefening, vol magies en geen skottelgoed – alles goed vir die gemoed!

Maak wel seker julle bespreek betyds, dit mag stampvol wees op so spesiale dag!

Vir die avonturier

Ons het ’n paar lekker stapplekke in en om Pretoria, pak ’n rugsak en vries die aand voor die tyd die waterbottels!

Maak jou veters vas vir ’n lekker stap op hierdie terreine:

Vir die denker en sentimentele pappa

Is jou pa ’n diep denker wat die kunste en kultuur sal waardeer? Vaders is immers die hoeksteen van ons gesinne, verbreed sy horison en verdiep sy siel met ’n lekker kunste-uitvoering by die AfriForum Teater. Tans word Die Gelofte in hierdie teater opgevoer en dit het die gehoor se asems weggeslaan. Lees meer hier.

Die opvoering is juis verleng tot en met Vadersdag, moet dit nie misloop nie! Kombineer dit met die volgende “Karnivoor”-aktiwiteit en jou pa gaan voel soos ’n kat wat room gekry het.

Vir die karnivoor

Hulle sê die pad na ’n man se hart loop deur sy maag …

’n Wenresep vir ’n gelukkige pappa – gee vir hom vleis, BAIE vleis, en dalk ’n brandewyntjie. Al hierdie lekker dinge kan jy by Buffelsfontein Beesboerdery kry. Bespreek ’n plek en kombineer dit met die Gelofte se opvoering in die AfriForum Teater!

Maak self ietsie.

Daar is party dinge wat net nooit “oud” word of uit die mode gaan nie, soos goedjies wat jou kinders vir jou maak. Dit tokkel ’n pappa se hartsnare op vlakke wat geen geld kan koop nie! Skryf ’n Vadersdagboodskap uit die hart, op ’n ouderdomsgepaste manier:

Babas, peuters en kleuters:

Trek jou kleuter se hand af, doop die voete in verf of laat hulle net met ’n paar kryte hulle kreatiwiteit op ’n papier uitleef! Vou die papiertjie toe en skryf ’n spesiale briefie daarin vir ’n kleurvolle kaartjie.

Laerskoolkinders:

Laat jou kind vir sy/haar pappa ’n brief skryf met vyf van pappa se gunstelingdinge. Om dit ekstra opwindend te maak, laat hulle die brief self illustreer met tekenprente!

Hoërskoolkinders:

Jou kinders is nou eintlik groot genoeg om die hele Vadersdag in hulle hande te laat! Hou ’n beplanningsvergadering oor die kruideniers wat hulle sal nodig hê vir ’n ontbyt in die bed, ’n piekniek of ’n braai waar pa net die agtersitplek kan inneem. Lê self ook sommer agteroor met ’n lekker boek en geniet die Sondag!

Jou kinders mag dalk ook daarvan hou om gedigte te skryf of in te kleur. Soek vir ’n mooi Vadersdag-gedig en illustreer of kleur dit in, of ontwerp dit saam met ’n mooi foto op jou foon! Die beste gedigte kom uit die Bybel. Hiermee ’n mooi Vadersdag-gedig, Psalm 103:13: “Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees.”

So kan ons elkeen dankbaar wees vir vaders wat ons aan die Hemelse Vader opdra – Geseënde Vadersdag!

Hierdie artikel was oorspronklik geplaas deur AfriForum Sakenetwerk.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest