In die weste van Pole, halfpad tussen die Poolse hoofstad Warskou en Berlyn, leer ’n klein groep Poolse studente reeds jare lank Afrikaans. Dit is by die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznań in die Department Nederlands en Suid-Afrikaanse Studies – ook bekend onder die fênsie naam filologia południowoafrykańska.

Afrikaans as Vreemde Taal is een van die kursusse wat in die Fakulteit Engels as ’n aangepaste en verrykte spesialisering aangebied word.

Vyf van die derdejaarstudente het die afgelope Februarie vir amper ’n maand lank deur Suid-Afrika getoer: Chasing the Horizon het hulle dit genoem. Ek en my vrou, Antoinette, het die toer van bykans 8 500 km aanmekaar geslaan en aanmekaar gehou. Dit is moontlik gemaak deur finansiële steun van die universiteit, gasouers wat die studente ontvang het en ’n klompie Suid-Afrikaanse borge, maatskappye, organisasies, trusts en individue.

AfriForum het vanjaar weer as borg opgetree en het almal een aand heerlik met eg-tradisionele Suid-Afrikaanse disse onthaal. Die studente het daar ook die kans gekry om so ’n bietjie met Afrikaanse jongmense te gesels wat lede van AfriForum Jeug is.

Ons het die studente gevra om hul ervaring in Afrikaans vir AfriForum Wêreldwyd  neer te pen. Agata Leśnowolska skryf – in haar eie woorde – die volgende:

(AfriForum het nie die studente se tekste taalversorg nie, sodat die leser kan lees hoe goed elkeen ons taal onder die knie het – red.)

“Die Chasing the Horizon toer was ’n wonderlike ervaring. Om in Suid-Afrika te wees was ‘n droom wat bewaarheid is. Elke dag was ’n avontuur. Elke dag het my perspektief verander. Om te sê wat die beste van die toer was, is soos jou gunsteling kind te kies, onmoontlik.

Ons eerste besoek aan ’n Suid-Afrikaanse skool het my diep aangeraak. Ons het Sutherland Hoërskool besoek. Dit is nie ’n groot skool nie, daar is ongeveer 400 kinders. Ek moet erken dat ek senuweeagtig was, want kinders is ’n baie veeleisende gehoor. Maar dit was ongelooflik! Die kinders was baie gedissiplineerd en het baie in Pole belang gestel. Ons het gesing, gelag en selfs gedans. Drie meisies het ons die ‘reed’-dans gewys. Ek het ook met die skoolhoof gepraat en kinders se vrae beantwoord. Dit was ’n baie gelukkige ervaring vir my om met die kinders interaksie te hê. Ons het waarskynlik meer as die kinders geleer.

Vir twee dae was ons werklike Suid-Afrikaanse boere. Ons het Isak en Karen Britz se ‘Oskop’-plaas naby Burgersdorp besoek. Ons het die eienaars met werk op die plaas gehelp. Ons moes beeste kamp toe lei en skape tel. Ons het geklim, agterop ’n bakkie gery, in die dam geswem en baie biltong geëet. Dit was wonderlik om sulke insig van die alledaagse lewe op ’n Suid-Afrikaanse plaas te kon kry.

Ek mis reeds Suid-Afrika. Ek dink ek sal na die pragtige land terugkeer, wanneer ook al dit mag wees. So asseblief, hou die land in haar goeie kondisie.”

En só skryf Zuzanna Waliszewska:

“Dit mag dalk snaaks klink, maar ’n braai, veral die eerste een, was iets wat ek nooit sal vergeet nie. Ons het van ‘braai’ by Professor Olivier geleer. Ek kan onthou hoe ons in die klaskamer gesit en oor wonderlike en smaaklike speserye en maaltye gepraat het. Ek weet dat braai ’n baie belangrik tradisie in Suid-Afrika is, maar ek het nie besef dit vorm so ’n ongelooflike groot deel nie. Die kos was baie smaaklik, maar dit is nie al rede hoekom ek so baie van ’n braai hou nie. Vir my was mense die mees belangrikste deel van die gebeurtenis. Ons kon met mekaar gesels, terwyl ons geurige kos geëet het. Die Suid-Afrikaners is baie gasvry. Dit was wonderlik om met hulle te praat, lag en sing. Dit is die magiese van elke braai – die mense.

Verder het ek die pikkewyne geniet. Dit is iets buitengewoon om pikkewyne in ’n vreeslike warm land, soos Suid-Afrika, te sien. Ek kon nie glo dat ek so naby aan hulle gestaan het nie. Miskien is dit vlak, maar komaan?! In Pole het ons takbokke, bere en wilde varke. Ek sê nie dat Poolse diere nie interessant is nie, maar pikkewyne? Wat kan daarmee kompeteer?

Om in ’n Suid-Afrikaanse huis te woon en om ontbyt en aandetes saam met ’n Suid-Afrikaanse gesin te eet, was ’n belangrike ervaring. Ek het so tuis gevoel. Mense het baie vir ons omgegee en dit het my gelukkig gemaak.

Toe ons in Sutherland was, kon ons na die sterre kyk en ek moet sê dat die Suid- Afrikaanse hemelruim van die Poolse een verskil. In die middel van die Karoo was daar ons; vyf Poolse studente wat na die sterre gekyk het. Jy kon die stilte van die gramadoelas hoor. Hoe kan jy jouself nie gelukkig noem nie?

Wat meer is, vir Suid-Afrikaners is die kleur van grond miskien iets gewoon, maar nie vir my nie. Ek kan nie glo dat grond rooi, bruin en oranje kan wees nie. Ek herroep nou nog die beelde. Dit is ’n suiwer skoonheid.

Ek kan oor Suid-Afrika praat en praat en natuurlik skryf en skryf. Ek dink my vriende is al gatvol, maar ek weet ek soek meer. Ek sal terug wees.”

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd admin
Wêreldwyd admin

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest