Leesvordering:

Wintersonskyn in Miami – Pieter de Lange

Jan 14, 2016

Ons het die spreekwoordelike pad gevat net toe die grys en grou nattigheid van Engeland in alle erns begin toeslaan. Laatmiddag land ons in Miami en doen gelukkig dadelik twee dinge reg: Ons huur ‘n satellietnavigasietoestelletjie en koop ‘n SunPass waarmee om op die tolpaaie te ry.

Dankbaar kom ons ná vele verskillende snelweë by ons Hollywood Beach-tyddeeloord aan. In teenstelling met die glansryke naam van die omgewing, is die ou tyddeelgeboutjie maar vaal en onindrukwekkend om die minste te sê. Lyk soos een van die ou, goedkoop losieshuise in Visagiestraat in ou Pretoria in die 60’s. Die kantoor is toe, maar gelukkig help een van die ander vriendelike inwoners ons om die sleutels te kry wat in ‘n bruin koevert gelos is. Terwyl ons in ons ruim maar eenvoudige eenheid afpak, sien ek darem die toerusting soos die TV, yskas en mikrogolf is topklas.

Dit is Mariaan se eerste besoek aan Amerika en gelukkig is die strand en see pragtig toe ons vinnig soontoe afstap voor donker. Dis heerlik om in die laatmiddagson op ‘n uitgestrekte strand rond te drentel. Daar is ʼn “boardwalk” naby ons oord en ons wandel kilometers met die see aan een kant en winkels en restaurante aan die ander kant. Almal is aan die stap of draf of op rolskaatse of Segways. In die nabygeleë parkeerarea sien ek die voertuie het net agter nommerplate op; tekens by die parkeerplekke dui aan dat ʼn mens só moet parkeer dat die nommerplaat sigbaar is vir iemand wat ingery kom, seker vir die polisie se patrolliemotors. Daar is verskeie plekke waar ʼn mens netjiese, amper nuwe fietse kan huur vir ʼn paar dollar.

Die volgende oggend swem ons gelukkig lank in die mooi blou, warm see en netsowel, want daarna begin ʼn woeste wind waai en hou meedoënloos aan met waai vir die volgende vier dae. Ons neem eers ons toevlug tot die beskutte swembad by die oord en besluit later om met die boottaxi na Fort Lauderdale te gaan. Fort Lauderdale is amper soos ʼn Amerikaanse Venesië, met waterweë en deftige huise op die oewers. Die grootste, uitspattigste huis is dié van L’Oréal se eienaars, en die eenvoudigste dié van die familie van Wells Fargo Bank wat hulle in 1919 gekoop en net so gehou het. Ek is opgewonde om te sien dat die swaargewig-bokskampioen van die 50’s, Rocky Marciano, en die oorspronklike Tarzan, Johnny Weismuller, ook daar woonplekke gehad het. Ons gids vertel baie staaltjies oor Al Capone, want dié deel van die wêreld was die berugte boef se operasionele area.

Ons maak toevallig die Amerikaners se “Thanksgiving” daar mee en dit is opvallend hoe baie “pumpkin pies” te koop is. Ons dink onwillekeurig aan die pampoenkoekies wat ons destyds geëet het. Aangesien die wind nog in volle swang is, besluit ons om by die “Black Friday Sale” in te val, wat by Wallmart nogal ‘n ordelike affêre is. Dit is opvallend hoeveel polisie daar by die uitverkoping is, sewe polisiemotors voor die plek en nog een wat patrolleer. Ná die afgryslike gebeure in Parys, is die Amerikaners baie versigtig vir enige geleentheid waar groot groepe mense bymekaarkom. Die jong man voor my in die winkel is ‘n Rus. Ons het baie ander mense in die Hollywood Beach-area hoor Russies of Pools praat. Die wêreld is deesdae so oop en kosmopolities.

Op ons laaste dag in die oord kom daar ‘n netjies geklede, ouerige man met ‘n lêer onder sy arm by ons eenheid aan. Ek vermoed dadelik dat hy nog tyddeel gaan probeer smous, maar ons raak lekker aan die gesels en hy vertel hoe hy as kind elke jaar saam met sy gesin op ‘n tweespoorpaadjie van die noorde afgery het Florida toe. Hy onthou die katoenlanderye in Suid-Carolina, met oorwegend swart plaasarbeiders, het soos ‘n toneel uit Gone with the wind gelyk. In daardie jare wou mense nie in Florida bly nie weens die hitte en insekte en gevaar van siektes; dit is gesien as feitlik ongeskik vir permanente verblyf. Maar uiteindelik het die ontwikkeling van lugreëling die wêreld oopgemaak en gelei tot ʼn groot migrasie na die warm suide, vertel hy.

Die laaste aand gaan ons Miami Beach toe om die bekende Art Deco-gebied, wat uit die 50’s en 60’s dateer, te sien. Ons beland op ‘n soort bus-/bootaffêre wat hulself die Duck Tours noem. Hulle wys ons beide die Art Deco-deel en die “fancy” huise op die 24 eilande van die waterkant af. Die moeilikheid is dat Amerikaners nie van eenvoud hou nie, so blote kommentaar oor alles wat ons sien, is nie genoeg nie; ons moet nou ook deelneem aan ‘n ”show”. So kry ons elkeen ‘n plastiekswaard in die hand en is veronderstel om op gegewe oomblikke te sing of skree. Maar ons is gefassineerd deur wat ons sien en is meer geïnteresseerd in die kommentaar oor waar Muhammad Ali en Joe Frazier hulle derde geveg gehad het, ‘n huis waar tonele van Al Pacino se Scarface geskiet is en die Addams Family se geskiedenis as in die amper histeriese, kamma-kamma seerowergeraas. Tog geniet ons alles al kry ons nie kans om ons dringende vrae te vra nie; miskien is dit die idee.

Ons besluit om die laaste paar dae te benut om na die Keys te ry. Dis ‘n reguit paadjie van amper 300 km met pragtige see aan weerskante. Genadiglik bedaar die erge wind ook en ons kan die heerlike klimaat ten volle geniet. Ná Engeland se uiters dol, besige, meestal nat paaie, is dit ‘n plesier om rustig in gelid in die snoesige sonskyn te toer en die vistas van see en horison in te neem. Key West is die bekendste van die dorpe; die strande is pragtig en die stad self interessant, met so ‘n bietjie van ‘n eksentriese aspek. Ons parkeer in die gewone, groot betonparkeergarage toe ek ʼn haan hoor kraai. “Nee,” sê Mariaan, “jy verbeel jou. Dit kan nie wees nie.” Ek stap in die rigting van die gekraai en jou wrintiewaar, daar sit die rooi haantjie op sy betonrak tussen al die blink metaal. Later sien ons hoendertjies op die sypaadjie rondhol en party winkeleienaars strooi vir hulle kos. Iets anders wat ons opval, is die ou, amper antieke skoolbusse wat nog in gebruik is.

Ons eindig by ‘n lekker mark met ‘n groot verskeidenheid varsprodukte en handgemaakte juwele en ornamente. Ons deel ‘n heerlike “brisket sandwich” wat groot genoeg is vir ‘n ete vir twee. Net voor ons ry, vertel iemand ons dat die mark deur ‘n Suid-Afrikaanse dame gereël word.

Ons laaste oggend was ‘n sensuele hoogtepunt, want ons het “reef fishing” gedoen. Die groot, kalm, turkoois oseaan, die vriendelike mense, warm weer en ywerige, kleurvolle vissies wat kort-kort byt, sal ons nog lank bybly.

Pieter

Lees ook: Kuier in Kiev

 

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest