Leesvordering:

Beskerm jou lewer tydens ’n werkfunksie – die buitelander se gids tot oorlewing in Pole

Jul 12, 2022

Deur Ira van der Merwe

Die ergste wyse waarop jy ’n Pool kan beledig, is om sy glasie vodka van die hand te wys. En hulle is so ’n gawe klomp dat ek dit in elk geval nie oor my hart kan kry nie, al hou ek nie van vodka nie. (Sjt! Moet vir niemand sê nie; ek verloor dalk my verblyfpermit!)

Daarom moet buitelander soos ek en jy strategieë ontwikkel om die skade op jou brose Afrika-lewer tot die minimum te beperk. Hier deel ek graag ‘n paar waardevolle wenke, waarvoor jou lewer en kop baie dankbaar sal wees.

Eerstens: Die vodka bly op die tafels. Dus: Hoe groter die afstand tussen jou en die tafel, hoe blyer raak jou lewer.

Tweedens: Moenie alleen daar doer ver van die tafels af staan nie. Maak altyd seker jy het iemand by jou, want ’n muurblommetjie word altyd deur ’n barmhartige Samaritaan na die tafels toe teruggelei – en na die bottels vol vrolikheid.

Derdens: Moenie jouself voor op die wa hou en ’n heildronk instel nie, want jou edel daad ontlok waarskynlik ’n stortvloed van heildronke van die res – en elke gevleuelde woord verdien ’n glasie deursigtige gif.

Moet ook nou nie jouself laf hou en die glasie slurp-slurp leegmaak nie. Jy word vinnig reggehelp: Die vloeistof moet in een beweging uit die glasie moet glip, mag nie kante raak nie en moet kortpad na jou lewer gaan. Die eerste keer word jy nog vergewe, maar die tweede keer lok jy ongewensde aandag uit. Jy sal voel asof jy al weer ontgroen word, want hulle laat jou dan voor almal oefen tótdat jy dit regkry. Daar is baie bottels om jou deur jou groeikurwe te help, so moenie dink die vloeistof gaan gou opraak nie. In Suid-Afrika werk ons op een bottel wyn per dame en twee per man in die geval van ’n koshuisdans – in Pole werk hulle op ’n halwe liter vodka per persoon! Boonop sluit dit nie die kwota wyn en bier in nie. So: Trap in jou spore, hou jou jouself eenkant (maar nooit alleen nie), gooi die glasie reguit af en staan op die gras.

Ja – op die gras. Dis jou laaste reddingsboei, want daar kan jy ongesiens jou glasie eenkant toe laat kantel om “per ongeluk” ’n paar druppels te verloor. En dan tuur jy skielik in die verte asof jy ’n koedoe in die skaduwees sien, en wanneer almal probeer sien waarna jy so intens staar, kantel jy die glasie weer ánderkant toe. Die gras is dankbaar en so ook jou brein, wat teen die tyd al ’n rosyntjie is.

Is daar interessante kultuuretiket wat jy in die buiteland moes aanleer? Het jy dalk wenke vir ’n sosiale byeenkoms in die land waar jy woon? Laat weet ons by wêreldwyd@afriforum.co.za.

Meer oor die outeur

Ira van der Merwe

Ira van der Merwe hop al vir meer as ‘n dekade in die buiteland rond. Met houtskool in die hand deel sy haar land met die wêreld. En met ‘n pen in die ander deel sy die humor in die vreemde met haar eie mense. Met Afrika-diere bedags en grappies skryf snags, verwerk Ira die hoogte- en laagtepunte van lewe in die vreemde.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Die jaar wat my lewe verander het!

Die jaar wat my lewe verander het!

Deur Clarice de Jonge Wanneer jy voel asof die wêreld te klein is vir jou en jy soveel meer betekenis aan jou lewe wil gee, is dit ’n teken om ’n groot wilsbesluit te neem en jou horisonne te verbreed. Aan die einde van 2021 het ek ’n gewaagde besluit geneem om my...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees in Richmond

Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees in Richmond

Hallo, Jaco! Dit is lekker om met jou te gesels. Die Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees het op 19–21 April 2024 plaasgevind. Vertel ons meer. Verlede jaar het ons 500 feesgangers gehad, wat dit die grootste byeenkoms van Suid-Afrikaners in die VSA gemaak het. My doel...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest