Leesvordering:

Die jaar van onse Heer 2020

Apr 21, 2020

Dit is die jaar van onse Heer 2020 ‒ dit is die beste van tye, dit is die slegste van tye, dit is die eeu van wysheid, dit is die eeu van dwaasheid, dit is die tydperk van geloof, dit is die tydperk van ongeloof, dit is die seisoen van lig, dit is die seisoen van duisternis, dit is die lente van verwagting, dit is die winter van vertwyfeling, ons het gemeen ons het alles voor ons gehad, ons het niks voor ons gehad nie, ons het almal hemel toe gegaan, ons het almal reguit na die ander plek gegaan … (Losweg gebaseer oop die beroemde eerste paragraaf van “Klassikus” se 1947-Afrikaanse vertaling van A tale of two Cities deur Charles Dickens, wat geskryf is toe Dickens in Gad’s Hill Place, so 27 kilometer van waar ek vandag in Sittingbourne woon, gebly het.  Dickens se woorde help ons om die omvang, diepte en enormiteit van hierdie onstuimige koronatye te probeer begryp).

Dit is die beste van tye

  • Terug na grondbeginsels

Skielik besef die drie miljard van ons wat geheel en al of gedeeltelik ingeperk is, dat ons terug by die basiese beginsels is ‒ ons bly tuis, luister na die voëls; geniet ons tuine of parke; spandeer tyd saam met ons geliefdes (dikwels deur middel van videogesprekke); oefen gereeld; speel speletjies; koop net die nodige; was ons hande; koester die rustigheid en stilte; bid gereeld; geniet ons gunsteling musiek; en beoefen ons stokperdjies.  Ons het ’n groot tuin, dit is heerlik stil, dit is die mooiste tyd van die jaar, so dit is maklik om ons aan ons daaglikse huishoudelike aktiwiteite oor te gee en te vergeet dat baie mense tans veg om aan die lewe te bly en baie gesinne die verlies van geliefdes betreur.  Gelukkig is ons wêreldwyd verenig om hierdie virus baas te raak ‒ iets wat nie gereeld gebeur nie.

  • Goue oues

Connie Titchen (106), die oudste oorlewende koronaviruspasiënt in die Verenigde Koninkryk (VK), is toegejuig deur ’n erewag van verpleegpersoneel in die gange toe sy ’n hospitaal in Birmingham verlaat het.  Hierdie ouma van vyf, wat drie weke lank teen die virus geveg het, het gesê dat sy nie kon wag om terug by haar familie te wees nie.  Die herstel van mev. Titchen volg op Keith Watson (101) van Worcestershire, wat die vorige week uit die hospitaal ontslaan is.  Die oudste oorlewende koronaviruspasiënt ter wêreld tot op hede is Cornelia Ras (107) van Nederland, wat siek geword het na sy ’n erediens bygewoon het in die inrigting waar sy woon.  Nog ’n goue oue, Tom Moore, ’n 99-jarige voormalige leërkaptein, het miljoene geïnspireer toe hy ’n honderd rondtes van sy tuin met sy Zimmer-raam voltooi het.  In die proses het hy daarin geslaag om ’n ongelooflike £20 miljoen vir die Britse Nasionale Gesondheidsdiens (NHS) in te samel.  Mnr. Moore was aanvanklik van plan om £1 000 vir die NHS se liefdadigheidsorganisasies in te samel.

Dit is die slegste van tye

  • Ekonomiese sorge

Ons ondervind ’n wêreldwye pandemie met alreeds meer as 2,4 miljoen infeksies en 160 000 sterftes, en getalle wat steeds styg.  Op ekonomiese gebied is die moontlike gevolge byna onberekenbaar ‒ ’n diep en langdurige resessie kan omtrent gewaarborg word.  Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het ’n ernstige waarskuwing uitgereik, naamlik “hoe langer die stilstand, hoe groter sal die skade wees”.  Dié instelling voorspel die diepste wêreldwye resessie sedert die 1930’s, asook dat die internasionale BBP hierdie jaar met tot 3 persent sal daal.  In die Verenigde Koninkryk het ’n “apokaliptiese” tesourieverslag gewaarsku dat die versuim om inperkings binne die volgende paar weke te verlig, tot gevolg sal hê dat ses uit tien ondernemings binne twaalf weke sonder kontant gestrand sal wees.  Volgens die Resolution Foundation (’n dinktenk) kan tot 11,7 miljoen mense werkloos raak in die volgende drie maande.  Versuim om op te tree sou beteken dat “daar sal niks van die ekonomie sal oorbly nie”.

  • Groot toename in sterftes as gevolg van ander oorsake

Die tweede week in April 2020 is die hoogste weeklikse dodetal in Engeland en Wallis aangeteken sedert daar vyftien jaar gelede begin is om die weeklikse statistiek amptelike aan te teken.  Vanjaar was sterftes in dié week byna 40 persent bo die gemiddelde, met 6 000 sterftes bo die gemiddelde van vyf jaar, waarvan net 3 475 met die koronavirus verband gehou het.  Dit word toegeskryf aan ’n toename in “ander” sterftes, moontlik van mense met ernstige kwale wat te laat vir die nodige behandeling aangemeld het, mense met chroniese nierprobleme of kanker wat nie behandeling kon of wou ondergaan nie, of pasiënte wat oorlede is terwyl hulle gewag het vir operasies wat nie nou gedoen kon word nie.  Op enige gegewe tydstip is daar meer as 4 miljoen pasiënte op die NHS se waglyste.  Die ander onbekende faktor is hoeveel sterftes as gevolg van die virus in tehuise vir bejaardes en ander sorgbehoewendes is, aangesien die daaglikse aantal aangetekende sterftes wat met Covid-19 verband hou, slegs uit sterftes wat in hospitale aangeteken word, bestaan.  Richard Sullivan, ’n professor wat spesialiseer in kanker en wêreldgesondheid aan King’s College in Londen, sê dat “die aantal sterftes as gevolg van die ontwrigting van kankerbehandelingsdienste waarskynlik binne die volgende vyf jaar die aantal sterftes as gevolg van die koronavirus sal oorskry”.  Hierdie potensiële gesondheidskrisis wat nie aan Covid-19 verwant is nie, kan tot die verlies van 150 000 lewens lei, wat andersins voorkom sou gewees het.  Blood Cancer UK waarsku byvoorbeeld dat daar meer as 10 000 mense in die Verenigde Koninkryk met ongediagnoseerde bloedkanker is.

Dit is die eeu van wysheid

  • Die voordeel van vroegtydige inperkings

Ierland het ongeveer tien dae voor die Verenigde Koninkryk met inperkings begin.  Die Ierse sterftesyfer is nou 107 per 1 miljoen van die bevolking, terwyl dit in die Verenigde Koninkryk 215 per 1 miljoen van die bevolking is.  Die groot verskille in die dodetal tussen buurlande bly steeds verstommend, soos Spanje met 419 sterftes vir elke miljoen van die bevolking, teenoor Portugal met slegs 64 sterftes per miljoen.  Duitsland het ’n uitstekende 50 sterftes per miljoen, terwyl België 445 sterftes per miljoen het.  Swede, daarenteen, wat geen inperkingsregulasies het, buiten dat hulle die publiek vertrou om verantwoordelik op te tree nie, het op die oomblik ’n sterftesyfer van 139 per miljoen.

  • Rasse se skynbaar verskillende immuniteit

Die hoof van die British Medical Association het gevra dat ondersoek ingestel word na die skynbare groter kwesbaarheid van swart, Asiatiese en ander minderheidsgroepe (BAME) vir die koronavirus, aangesien die eerste tien dokters wat gesterf het nadat hulle positief vir Covid-19 getoets is, as BAME geïdentifiseer is.  Trevor Phillips, die voormalige hoof van die Britse Kommissie vir Gelykheid en Menseregte, spekuleer ook waarom mense van bepaalde rasgroepe skynbaar in groter gevaar verkeer.  In Chicago, ’n stad waarvan ’n derde van die inwoners swart is, het meer as twee derdes van die sterftes in die swart gemeenskap voorgekom, sê hy.  Dieselfde patroon het homself herhaal in Londen ‒ hoe hoër die persentasie BAME-inwoners in ’n gebied is, hoe hoër blyk die infeksiesyfer te wees.  Hierdie patroon is nie maklik verklaarbaar nie, aangesien dié groepe in hierdie bepaalde stede se lewenspatrone veel meer uiteenlopend as dié van die sogenaamde wit inwoners van die gebiede is.  Teoreties sou die sterftesyfer die hoogste onder ’n homogene groep moes wees.  Ter afsluiting sê Trevor: “Baie mense glo dat slegs geloof ons van hierdie spesifieke euwel sal kan verlos, maar selfs hulle moet weet dat die wetenskap ons sal moet vertel hoe dit sal gebeur”.

Dit is die eeu van dwaasheid

  • Domastrant verby

Terwyl leiers regoor die wêreld optree om die verspreiding van Covid-19 met inperkings en kwarantyn te voorkom, beskryf president Alexander Lukashenko van Belarus die kommer oor die pandemie as “koronavirus-psigose”.  Hy het voorgestel dat ’n sterk dop, ’n warm sauna en harde plaaswerk die siekte sal voorkom.  “Die trekker sal almal daar genees, die landerye genees almal”, aldus die president! (Lesers mag dalk hierdeur aan ’n voormalige Suid-Afrikaanse minister van gesondheid, Manto Tshabalala-Msimang, herinner word ‒ sy het berug geraak vir haar bewerings dat die Afrika aartappel, beet en knoffel geneesmiddels vir MIV/Vigs is).  Gevolglik bly fabrieke, kleuterskole, restaurante en universiteite in Belarus oop en die Belarussiese sokkerliga speel voort, toeskouers en al.  Trouens, dit is die enigste sokkerliga wat tans nog in Europa speel.  Andrei Sannikov, ’n voormalige presidentskandidaat in dié land, het die situasie as ’n katastrofe beskryf en gesê dat die werklike syfers vyf tot tien keer hoër mag wees as die 42 sterftes wat tot dusver amptelik bevestig is.

Dit is die tydperk van geloof

  • Kontroversiële kerksluitings (inligting uit die briewekolom van The Times)

Daar was baie kritiek op die besluit van die aartsbiskop van Kantelberg om kerke te sluit en geestelikes te verbied om siekes en sterwendes persoonlik te besoek.  In ’n brief in The Times skryf sy edele Robert Hardy, wat ook in Borden woon, dat tensy die aartsbiskop anders beslis, dit vanjaar die eerste keer in 800 jaar sal wees wat daar geen Paasdiens in hierdie dorp in Kent se kerk sal wees nie.  Die eerwaarde dr. Nigel Scotland beskou dit uit ’n ander hoek en noem dat Christene in die eerste drie eeue na Christus, tot met die bekering van keiser Konstantyn, vervolg is en dus genoodsaak was om Nagmaal tuis te hou.  Hy meen dat miljoene hierdie Paasfees iets soortgelyks sou doen en dat Christenskap daarom weer as’t ware tuisgekom het.  Dr. Peter Trewby meen dat wanneer ’n geestelike nie ’n sterwende pasiënt wat om hulp vra, gaan bedien nie, die eeue-oue tradisie om siekes en sterwendes te vertroos, vernietig word.  Charles Puxley spreek ook sy teenkanting uit wanneer hy vra: “Ek wonder wat Jesus sou dink?  Hy het immers nie ’n probleem daarmee gehad om met die melaatses te meng toe dié siekte in Judea uitgebreek het nie”.  Eerwaarde Cynthia Park, ’n emeritus Metodiste-predikant van Hove, is vasbeslote dat “ons pragtige heilige ruimtes oop moet bly sodat almal vertroosting kan vind in hierdie moeilike tye”.  Sy meen die Britse regering se besluit om noodsaaklikhede te beperk tot slegs dít wat mense se liggame voed en fiks hou, is uiters kortsigtig.  “Ons siele moet ook gevoed word,” skryf sy.

Dit was die tydperk van ongeloof

  • Treurende tehuise in die VK

Die Brighton and Hove Clinical Commissioning Group het onder skerp kritiek deurgeloop toe dit in die media aan die lig gekom het dat hulle aan algemene praktisyns opdrag gegee het om inwoners van tehuise vir bejaardes nie te laat resussiteer nie. Blykbaar het die tehuise opdrag gekry om vas te stel of hulle ’n “resussitasie opdrag” (DNR) vir elke inwonende pasiënt het.  Peter Kyle, parlementslid vir Hove en Portslade, het gesê: “Bestuurders met wie ek gepraat het, voel beledig en bitter ontsteld.  Een bestuurder van ’n tehuis het 16 van die 26 inwoners op een dag DNR-vorms laat teken.  Niemand kan vir my kom vertel dit het geskied na afloop van ’n beredeneerde, weldeurdagte en sensitief gehanteerde proses wat almal se familielede betrek het nie.”  Die bestuurders van die tehuise het selfs opdrag gekry om aan familielede te sê dat verswakte bejaardes nie op die soort intensiewe behandeling wat nodig is vir die komplikasies wat die koronavirus veroorsaak, reageer nie.  Die risiko sou sogenaamd bestaan dat hospitaalbehandeling hulle pyn en lyding net sou vererger en dus is aanbeveel dat opname in ’n hospitaal ongewens sou wees.  In ’n ander deel van die land, naamlik in Wiltshire, het Elizabeth Duncan, wat vroeër by Bletchleypark (bekend vir die “kodebrekers” tydens die Tweede Wêreldoorlog) gewerk het, gesê dat mede-inwoners in die tehuis waar sy bly, gevra is om dokumente te onderteken om te vra dat hulle nie hospitaal toe geneem moet word as hulle die virus sou opdoen nie.  Terwyl die virus vele sterftes in tehuise veroorsaak, groei die woede van familielede aan oor die verlies van hulle geliefdes.  Personeellede word deur die hoë aantal sterftes binne redelike kort tye emosioneel gebreek en vrees dat hulle weens die gebrek aan voldoende persoonlike beskermende toerusting, nog sterftes gaan veroorsaak.  Hulle voel ook dat daar ’n gebrek aan ondersteuning vir hulle is.  Die Bradwell Hall Nursing Home in Staffordshire het byvoorbeeld 24 inwoners binne net enkele dae verloor.  Baie tehuise is op die punt van ineenstorting, want een uit elke vier versorgers kan tans nie aanhou werk nie, hetsy omdat hulle hulself afsonder, of saam met iemand met simptome van die virus woon, of na hulle kinders wat nou ook tuis is, moet omsien.  Volgens die liefdadigheidsorganisasie Care England het die aantal inwoners van tehuise wat vermoedelik weens Covid-19 dood is, op 17 April 2020 sowat 7 500 beloop, wat vyf keer meer as die vorige skatting is.

  • President Trump onttrek befondsing aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO)

President Trump se omstrede en onverwagte besluit om die VSA se finansiering vir die WGO in die middel van die pandemie te staak, ontneem nie net die organisasie van 22% van sy befondsing nie, maar doen ook afbreuk aan Amerika se rol as wêreldleier.  Trump het die WGO daarvan beskuldig dat dit openlik bevooroordeeld ten gunste van China is, terwyl laasgenoemde slegs 12% van die WGO se begroting bydra.  Op hierdie wyse het Trump die weg geopen vir Beijing om tot die finansieringstekort wat nou ontstaan, by te dra en daardeur moontlik ’n stappie nader aan wêreldleierskap te gee.  Die president van die Amerikaanse Mediese Vereniging noem Trump se besluit ’n gevaarlike tree in die verkeerde rigting wat die stryd teen Covid-19 nie sal vergemaklik nie.  Hy dring by Trump aan om die besluit te heroorweeg.  Die Australiese premier, Scott Morrison, het simpatie met Trump se kritiek op die WGO, maar merk op dat die WGO ook baie belangrike werk in sy streek doen.  Hy sê Australië gaan nie die spreekwoordelike baba met die badwater weggooi nie.

Dit is die seisoen van lig

  • Vlieënier word ’n lorriedrywer vir Tesco en ’n kroegman begin boer

Die koms van die koronavirus het buitengewone veranderings in die arbeidsmark veroorsaak.  Binne enkele weke het honderdduisende mense wat tydelik of permanente afgedank is daarin geslaag om permanente of tydelike nuwe werksgeleenthede te vind in daardie sektore van die Britse ekonomie wat nie toegemaak is nie, maar desperaat na meer mannekrag op soek is.  Dit sluit supermarkte, plase, tehuise vir bejaardes, voedselfabrieke en gesondheidsdienste in.  Peter Cheese, uitvoerende hoof van die Chartered Institute of Staff and Development, beskryf dit as ’n definiërende oomblik in die Britse geskiedenis.  “Niks in die onlangse verlede kom naby hieraan nie,” reken hy, “selfs nie eens die koms van meer as ’n miljoen Pole en ander migrante uit Oos-Europese lande in die 1990’s nie.”  Die omvang en spoed waarteen loopbaanveranderings plaasvind, is verbasend.  Tesco het binne tien dae 35 000 tydelike werkers aangestel.  Die NHS het daarin geslaag om binne enkele weke 750 000 vrywilligers te vind.  Die hotel-, kroeg- en restaurantsektor, wat feitlik geheel en al gesluit het, het normaalweg 2,9 miljoen mense in diens, terwyl die sektor vir nie-voedselwinkels, plus die vermaak- en kunssektore uit ongeveer 6 miljoen werkers bestaan.  Die reisbedryf is ook groot ‒ British Airways alleen het 36 000 mense se dienste tydelik beëindig.  ’n Vlieënier wat normaalweg vir British Airways werk, Peter Login, werk nou as ’n drywer van ’n afleweringsvoertuig vir ’n supermarkgroep.  Hy skerts dat hy ’n 747 vir Tesco se lorrie verruil het.  Enkele weke gelede het Tom Ruff nog drankies in ’n kroeg in die middel van Bristol bedien, nou werk hy op ’n plaas waar hy pampoene en komkommers plant, slaaikoppe pluk en die hoenders voer.  Van saai tot sing: Joanna Harries, ’n mezzosopraan verbonde aan die Merry Opera Company sou die rol van Zerlina in die agttiende-eeuse opera van Mozart, Don Giovanni vertolk toe operahuise skielik weens die virus gesluit is.  Joanna pak nou rakke en staan agter die kasregister van ’n koöperasie in Rotherhithe in die suidooste van Londen.  Richard Gregson, ’n kleremaker van pasgemaakte uitrustings vir mans, het sy besigheid, Tatton en Gregson, gesluit.  In plaas daarvan dat hy sakelui en voetbalspelers se mate neem om teen £1 250 elk vir hulle pakke te maak, lewer hy nou aanlynbestellings vir ’n supermark in Liverpool af.

Dit is die seisoen van duisternis

  • Erger as vuur spoeg …

’n Man is gearresteer omdat hy sy speeksel aan produkte in ’n supermark afgevee het.  Volgens die polisie in Dorset het hy die winkel met ’n gesigsmasker en handskoene aan binnegegaan, maar toe die masker afgetrek en sy vingers gelek, waarna hy sy vingers aan kruideniersware afgevee het.  In Bolton, Lancashire, is ’n vrou weer van aanranding aangekla nadat sy ’n verpleegster geslaan en na twee NHS-sekuriteitswagte begin spoeg het.  In Brighton is ’n dosent, Jane Challenger Gillit, ’n opgeskorte vonnis van ses maande opgelê nadat sy op die polisie gespoeg het en aan hulle gesê het dat sy Covid-19 het. Gareth Rudge (34), van Newport in Wallis, is ses maande lank tronk toe gestuur omdat hy ’n dokter in die gesig geslaan het terwyl laasgenoemde besig was om Covid-19-pasiënte te behandel.

  • Bang medici in die voorste linies

Hospitaal- en verpleegpersoneel is baie bang dat hulle pasiënte en inwoners van tehuise gaan besmet omdat hulle sonder voldoende persoonlike beskermende toerusting moet werk.  Matt Hancock, die gesondheidsekretaris, het lord Deighton, die man wat aan die stuur van die beplanning van die Olimpiese Spele in Londen gestaan het, as die “tsaar” van voorsiening van hierdie voorrade aangestel, wat as erkenning dien dat ministers nie daarin kon slaag om die situasie na behore te bestuur nie.

Dit is die lente van verwagting

  • ’n Desperate “laaste poging”

Nuwe riglyne van die Britse Intensive Care Society beveel aan dat dokters dit moet oorweeg om alle koronaviruspasiënte wat suurstof benodig op hulle mae te draai om hulle longe te help om suurstof meer doeltreffend na die bloedstroom oor te dra.  Dit gebeur omdat daar dan minder druk van die hart en diafragma op die alveoli van die longe is.  Stacey Fresco, ’n ma van twee dogters, onderskeidelik 21 en 23 jaar oud, was op Moedersdag (22 Maart 2020) in ’n intensiewe sorgeenheid aan lewensonderhoudende masjiene gekoppel, geheel en al bewusteloos.  Haar dogters het beurte gemaak vir haar voor te lees, wetende dat sy Covid-19, bakteriële longontsteking en ernstige nierprobleme het.  Die dokters het aan Adam Fresco gesê dat dit onwaarskynlik is dat sy vrou die volgende paar uur sou oorleef.  Toe noem die dokter egter dat daar ’n laaste tegniek is wat hy kan probeer.  Dit is naamlik om die pasiënt vir ongeveer 12 uur lank op haar maag te draai.  Die dokter het ook gewaarsku dat dit tot ’n noodlottige hartaanval kon lei, maar aangesien Stacey se kans op oorlewing gering was, was hy bereid om hierdie tegniek uit te toets.  Adam en sy dogters het toestemming gegee hiervoor en huis toe gegaan. Twee dae later het ’n telefoonoproep van die hospitaal die wonderlike, onvergeetlike boodskap aan die angstige gesin oorgedra dat Stacey besig was om te herstel.

 

Dit is die winter van vertwyfeling

  • Toename in depressie, alkoholisme en dobbelary in die VK

Rory O’Connor, professor in Gesondheidsielkunde aan die Universiteit van Glasgow, het onlangs verklaar dat verhoogde sosiale isolasie, eensaamheid, kommer oor gesondheid, stres en die huidige ekonomiese afswaai ’n perfekte storm skep wat mense se geestesgesondheid en welstand benadeel.  Dit volg na resultate van ’n opname wat deur Ipsos Mori onderneem is, bekendgemaak is.  Dit het naamlik bevind dat 20 persent van die mense wat aan die peiling deelgeneem het, bekommerd oor kwessies rakende hulle geestesgesondheid, byvoorbeeld angstoestande is.

  • Gaan die koronavirus die Europese Unie (EU) vernietig?

Die Covid-19 pandemie bring die griewe en diepe verdeeldheid wat onder die lede van die EU bestaan, aan die lig.  Die lande wat die swaarste deur die virus getref is, naamlik Italië, Spanje en Frankryk, vra nou dat die EU die enorme finansiële koste van die pandemie moet deel.  Giuseppe Conti, die eerste minister van Italië, het die Duitsers en Nederlanders gewaarsku dat hulle “Europa sal vernietig” as hulle die bestaande reëls wat die verdeling van skuld tussen die lidlande verbied, handhaaf. “Die pasiënt Europa sal dan sterf”, het hy aan die Duitse koerant Bild gesê.

Meer oor die outeur

Pieter de Lange

Ek is in Kroonstad gebore neffens die rustige ou Valsrivier en matrikuleer aan die Hoërskool Kroonstad in dieselfde era as skrywers soos Antjie Krog en Max du Preez. Ek studeer op Tukkies, speel o.19-rugby vir hulle en boks vir die SA Universiteitespan, waarna ek Protea-kleure in dié sport verwerf. In 1974 begin ek in Londen praktiseer, word deur die Ferrari-gogga gebyt en keer ná drie jaar na Pretoria terug met ’n rooi Ferrari Boxer. In 1981 trou ek met Mariaan en ons verhuis Londen toe vir 18 maande. Ek begin in 1990 met ’n MBL-kursus en geniet die navorsingsprojek die meeste, en kry tot my verbasing die hoogste punte. Ek skryf baie artikels oor SA se Olimpiese bod vir die Sunday Times, Beeld, Business Day en Rapport. Ek publiseer ook my Olimpiese boek The Games that Cities Play, wat voorgeskryf was vir BA MBK (Menslike Bewegingskunde) asook B Com Sportbestuur se eerstejaars, (Sportgeskiedenis en Sportfilosifie) studente by Tukkies, vir 1999 tot 2003. In 1999 verhuis ons sak en pak Londen toe met ons kroos René, Christiaan en Simon. Ek begin ’n navorsingsprojek oor oorsese Suid-Afrikaners en skryf ’n reeks artikels vir The South African. Ons sien die wêreld saam met ons kinders, van ’n ysige St. Petersburg tot die snikhete Rooisee in Egipte. Ons het nou ’n pragtige kleinseun Arlo en woon in Kent, waar ek steeds praktiseer en gereeld aan parkwedlope deelneem om die ou karkas aan die gang te hou.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest