Leesvordering:

Nomadegade: Wenke en wyshede vir eggenote in die buiteland

Jul 5, 2023

Jy onthou nog die opgewondenheid wat die groot nuus vergesel het. ’n Werksaanbod in die buiteland! Dís mos nou iets om oor huis toe te skryf. Hoe kon jy jou eggenoot hierdie geleentheid verbied? Die salarispraatjies het onmiddellik jou verbeelding geprikkel, maar niemand het jou gesê van die hol kol wat daar op jou maag sou sit nie. “Oorsee” is net ’n mooi woord vir “ver van die huis af” en die trek haal jou in. Hiermee ’n paar wenke en wyshede om die gevreesde nomadegade-sindroom te oorwin.

Om ’n werksaanbod in die buiteland te aanvaar is nie ’n vreemde verskynsel nie. Inteendeel, dit is ’n doelwit waarna baie streef. Binne die konteks van ’n huwelik is ’n nuwe pos dikwels meer ingewikkeld as bloot die aanvanklike ja woord, omdat daar nou twee persone ter sprake is.

Die term “trailing spouse” is vir die eerste keer in 1975 deur Mary Bralove in die Wall Street Journal aangewend om uiting te gee aan die gevoelens van ’n eggenoot wat moes emigreer agter haar man se werk aan.

Ten spyte van die wonderlike geleentheid vir die ontwikkeling van ’n loopbaan, bestaan daar ’n reeks uitdagings wat elke eggenoot in die gesig staar ná afloop van ’n oorsese verhuising. Om hierdie uitdagings te ignoreer of af te skryf gaan egter niemand baat nie. Kom ons identifiseer dus die opvallendste moeilikhede wat oor jou pad mag kom, sodat jy die volgende stap kan neem en nomadegade-sindroom die deur kan wys!

Loopbaanontwrigting

Alhoewel dit lyk asof jou huweliksmaat se loopbaan vorder, voel jy dalk ontsenu deur die ontwrigting van jou eie. Jy het dalk jou doelwitte in jou tuisland agtergelaat en jou huistaal vir ’n vreemde een verruil. Miskien laat jou visum jou nie toe om in jou nuwe omgewing ’n werk te kry nie, of moet jy van beroep verander om ’n salaris te verdien. Die loopbaanverwante uitdagings is baie!

Kultuurskok

Buiten die verlies van jou werk, moet jy ook aan ’n wildvreemde kultuur gewoond raak. Kultuurskok is ’n realiteit vir die nomadegade, wat hul gemaksone moet verlaat om ’n nuwe omgewing te verken. Dit kan ’n geruime tydjie vat om aan te pas by ’n nuwe werklikheid en die skok tref nie altyd dadelik nie – soms is dit ’n geleidelike opbou van gebeure wat tot die breekpunt lei. Hierdie skok kan moeilik wees om te verwerk, aangesien daar nie een enkele rede daarvoor bestaan nie, maar eerder ’n reeks omstandighede wat mettertyd daartoe lei.

Nomadegade-sindroom hoef egter nie jou voorland te wees nie. Indien jy self met hierdie ingewikkelde gevoelens worstel, of dit dalk in jou huweliksmaat raaksien, mag die volgende wenke jou dalk help om gemoedsrus te vind.

Wenke en wyshede om nomadegade-sindroom te bekamp

  • Bou ’n ondersteuningsnetwerk

Dis ’n menslike behoefte om aan iets groter as onsself te behoort. Sodra jy voel asof jy nie iewers hoort nie, kan daar ’n diepe ongemak ontstaan met gevolge wat verder strek as die onmiddellike. Sluit dus so gou as moontlik aan by ’n groep in jou nuwe land, hetsy kerk of klub, sodat jy kan begin bou aan ’n ondersteuningsnetwerk: ’n plek om te behoort. Hierdie groepe kan uitstekende emosionele ondersteuning bied, asook die vestiging van nuwe vriendskappe en waardevolle hulpbronne.

Besoek gerus AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids om ’n kerk, klub of ekspat-onderneming in jou nuwe omgewing op te spoor. Netwerke is nie slegs vir ondernemings nie, dit is ook ’n waardevolle wyse om ’n ondersteuningsbasis te bou vir daardie dae wanneer die verlange na die bekende te veel raak.

  • Kommunikeer jou gevoelens aan jou eggenoot

Kommunikasie is ’n kernbestanddeel in die huweliksresep. Sodra jy besef dat jou gemoed in die rigting van nomadegade-sindroom of selfs ekspat-despressie neig, is dit belangrik dat jy hierdie gevoelens aan jou huweliksmaat kommunikeer. Hulle kan jou nie bystaan as hulle nie weet dat jy hul bystand nodig het nie! Hierdie soort gesprekke mag dalk ongemaklik wees, maar ook lewensveranderend. Skeduleer dus gereelde gehaltetyd saam as ’n paartjie, sodat jy veilig genoeg voel om jou hart te deel.

  • Prioritiseer jou gesondheid

Wanneer dit swaar gaan met jou gemoed, is jou fisiese welstand krities. Fisieke oefening het ’n beduidende positiewe effek op jou gemoedstoestand en kan jou meer tevrede, rustiger en ook verfris laat voel. So, as jy die dag ’n bietjie bedruk voel, gaan stap, draf of ry ’n ent fiets. Die vars lug en oefening kan jou net goed doen!

Dit is ook belangrik om jou emosionele welstand dop te hou. Sodra jy opmerk dat jy jouself wil isoleer, moet jy doelbewuste besluite maak om dit teen te werk, aangesien isolasie jou gemoedstoestand kan vererger. Gaan kuier by jou nuwe vriende en doen goed wat jou siel opkikker. Daar is ’n hele nuwe wêreld wat op jou wag; gaan ontdek dit! Van nuwe eetplekke en disse na asemrowende landskappe en oulike winkeltjies – daar is ’n rits avonture wat jy nie kan mis nie. 

  • Laat jou leergierigheid seëvier

Leer ’n nuwe taal, beoefen ’n stokperdjie, begin jou eie onderneming of slaan ’n nuwe studierigting in! As jy tyd tot jou beskikking het, is die wêreld vir jou werklik wawyd oop. Hou jouself produktief besig en wees braaf genoeg om jou eie pad in hierdie nuwe omgewing te vind.

Om ’n nomadegade te wees, bied sy eie stel uitdagings, maar dit bied ook geleenthede vir persoonlike en professionele groei. Deur hierdie reis met ’n positiewe ingesteldheid, oop kommunikasie en ’n proaktiewe houding te benader, kan ’n nomadegade struikelblokke oorkom en ’n vervullende lewe op ’n nuwe plek hê. Om nuwe ervarings aan te gryp, ondersteuningsnetwerke te bou en op persoonlike ontwikkeling te fokus is die sleutel om hierdie unieke pad suksesvol aan te pak.

Onthou, die reis van ’n nomadegade kan transformerend wees, wat lei tot nuutgevonde sterkpunte en veerkragtigheid wat beide individue en hul verhouding kan bevoordeel – die sogenaamde nomadegade-sindroom hoef dus g’n houvas op jou te hê nie.

Foto: amy-humphries-unsplash

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest